Gaan kyk maar op jou mure, jou deure op jou sypaadjie – vandag nog daar en môre skoonveld!
Skrootmetaal en tweedehandse handelaars glimlag breed, want misdadigers laat geen stukkie koper in Parys onaangeraak nie.
Of dit ’n deurhandvatsel, huisnommer, naambord, watermeter of watermeterkas is. Alles wat koper is word weggedra.
Die skokkendste is dat die diefstal oënskynlik ook dikwels helder oordag gebeur. Die afgelope naweek is vier handvatsels van die AP Kerk se deure gesteel. So ook die handvatsels van die deure by Grimbeek & Vennote. In Parys is daar bykans nie meer ’n watermeterkas oor nie, en word al meer watermeters by die dag weggedra. Ook in Tumahole is al verskeie voorvalle aangemeld.
En solank die koper gekoop word en die skuldiges nie vasgetrek word nie, trek inwoners aan die kortste ent, terwyl al wat koper-item is reg voor hul neuse gesteel en gekoop word. En moenie glo nie – selfs swaar betonornamente en plante kry voete.




