SportSport

Sharks en ‘n Leeu versterk Luiperds

Twee Sharks en ‘n Leeu het hulle vandeesweek in Potchefstroom aangemeld om die Luiperds se hand te versterk in hul strewe om vir die Premierliga te kwalifiseer.

Twee Sharks en ‘n Leeu het hulle vandeesweek in Potchefstroom aangemeld om die Luiperds se hand te versterk in hul strewe om vir die Premierliga te kwalifiseer. Hulle sal reeds vir Saterdag se stryd op Olënpark teen die Valke oorweeg word. Die Sharks-vleuel Sizo Maseko en die skrumskakel Hanco Venter asook die Leeus se veelsydige agterspeler Damian Engledoe oefen reeds saam met die Luiperds.

Volgens die afrigter Robert du Preez lig die nuwelinge die gees van die huidige groep met hulle insette en verskaf hulle broodnodige diepte. Maseko en Engeldoe sal reeds vir die naweek oorweeg word met die vleuel Sergio Torrens wie weens ‘n skouerbesering nie oorweeg sal word nie. Dié twee en Rowayne Beukman sal in die tou staan om die vakante plek op linkervleuel in te neem.Venter is ‘n oud Junior Bokkie, maar die Luiperds se twee skrumskakels, Dillon Smit en Malherbe Swart, is tans gevestig en die oud Monument-speler sal dalk ‘n week of wat moet wag om te speel.

Maseko het die afgelope drie jaar vir die Sharks Vodacom-rugby gespeel en het baie spoed, terwyl Engledoe ewe tuis op heelagter en vleuel is. Die afrigtingspan sal die reserwe slot, Stairs Mhlongo, wie sy enkel in ‘n oefening beseer het, ook moet vervang. Die finale span was met druktyd nie aangekondig, maar behalwe om Torrens te vervang, behoort daar nie veel aan die beginspan wat teen die Arende gewen het, getorring te word nie. Lees wat skryf Piet de Jager oor die wedstryd wat die Luiperds Vrydag in George teen die Arende gespeel het op bladsy 31.

Die Luiperds en die Boland Kavaliers is die vroeë voorlopers in die kwalifiserende ronde van die Curriebeker nadat albei bonuspunt-oorwinnings in die eerste ronde behaal het. Na die Luiperds se oortuigende sege oor die Arende (45-17) in George Vrydagaand waarin hulle ses drieë gedruk het, is hulle bo-aan die punteleer. Die Boland het vier drieë in hul sege oor die Griffons in Malmesbury behaal en neem die tweede plek in.

Die Valke het ‘n loslootjie gehad en skop hul veldtog Saterdag in Potchefstroom teen die Luiperds af.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button