
Ngwathe woordvoerder, mnr Steve Naale, het bevestig dat verskeie klagtes van die publiek ontvang is oor bloedwater wat gereeld oorloop uit verstopte mangate in Parys, en dat munisipale bestuur vandag, Dinsdag 4 Desember, oor die aangeleentheid sou vergader het om oplossings vir die pad vorentoe te probeer kry.
’n Maand gelede het Gazette berig oor die bloedwater wat vir ure uit ‘n mangat in Endstraat gestroom het, en in die leivoor afgeloop het tot in die Mimosa-spruit en vandaar in die Vaalrivier. Dieselfde onaanvaarbare gesig is verlede week in Arthur Fisherstraat in Parys se nywerheidsgebied gesien. ’n Stinkende bloedwaterstroom verby besighede en huise.
Hoewel die verstopping in die netwerk verwyder is wat veroorsaak het dat die mangat oorgeloop het, sê sakelui en inwoners dat rehabilitasie van plekke waar die bloedwater só uitloop, nie gedoen word nie.
Die mangat in Endstraat waaroor vroeër berig is, was reg by die oprit van ‘n private woning.



