NewsNews

Want elke vrou en kind het ’n reg – verbreek die stilte

Verbreek die stilte

Die 16 Dae Aktivisme-veldtog teen Geweld teen Vroue en Kinders het vanjaar op 25 November afgeskop. Hierdie veldtog daag Suid-Afrikaners uit om ‘n einde bring aan geweld teen weerloses in ons gemeenskap.
Hoewel ‘n 16 dae veldtog nie werklik iets aan geweld teen vroue en kinders kan doen nie, kan ons ook nie ons koppe in die sand druk en maak asof dit nie in gemeenskappe, en ook in Parys, plaasvind nie, sê die Parys GPF.
Statistieke is glad nie rooskleurig nie. Skokkend genoeg word elke veertien minute in Suid-Afrika ’n verkragtingsaak aangemeld. Elke uur en ’n kwart word ’n vrou of kind onsedelik aangerand, en elke twee uur word ’n saak van kinderverwaarlosing aangemeld.
Een uit elke ses vroue in Suid-Afrika word gereeld deur ‘n lewensmaat aangerand en in byna 50% van die gevalle word kinders in ‘n huis mishandel.
‘n Onlangse Optimus Studie oor die seksuele mishandeling van kinders het bevind dat een uit drie kinders teen die ouderdom van 17 een of ander vorm van seksuele mishandeling ervaar het. Dit kan later in die volwasse lewe tot ‘n toename in rook, alkohol- en dwelmmisbruik, en riskante seksuele gedrag lei.
“Dit behoort meer as genoeg rede tot kommer te wees, en meer as genoeg rede vir almal om betrokke te raak by watter program ook al nodig is om hierdie geweld en onreg hok te slaan.”
Hierdie is in werklikheid ’n internasionale veldtog, wat ontstaan het by die eerste Women’s Global Leadership Institute, wat tydens 1991 deur die Centre for Women’s Global Leadership geborg is. Alhoewel die wêreldwye veldtog slegs op geweld teenoor vroue fokus, het Suid-Afrika as gevolg van die hoë vlak van kindermishandeling, kinders onder die vaandel van dié veldtog bygevoeg.
Die wit strikkie word jaarliks as ’n simbool van persoonlike en organisatoriese verbintenis tot die uitwissing van geweld teen vroue en kinders gedra, en dit simboliseer die verbintenis van die draers om nooit geweld teen die weerloses te pleeg of goed te keur nie, en om standpunt in te neem teen geweld waar hulle dit teëkom.
Anne-marie du Toit, voorsitter van die Parys GPF daag die gemeenskap uit om ruimtes te skep waarbinne weerloses ‘n stem kan kry.
Geweld teen vroue en kinders kan baie vorms aanneem, waarvan hoofsaaklik emosionele en fisieke geweld, maar armoede, verhongering en vernedering veroorsaak deur onder andere ongelykheid en werkloosheid, is ook vorms van geweld.
Sommige van die oorsake van geweld teen vroue en meisies spruit voort uit die lae status wat vroue in huishoudings, en in die samelewing het. Dit vind plaas wanneer mans hulle mag en magsposisies uitbuit met die doel om vroue en kinders te beheer.
Die tekens van mishandeling sluit in vertraagde of onvanpaste emosionele ontwikkeling, ‘n lae selfbeeld, sosiale onttrekking, depressie, hoofpyn of maagpyn sonder mediese oorsaak, verwaarlosing van skoonheidsroetine, fisiese beserings, en wegskram van sekere situasies soos om skool te bank. Kinders wat grootword in gesinne waar geweld voorkom, kan etlike gedrags- en emosionele afwykings toon.
Geweld teen ‘n intieme lewensmaat kan ook verband hou met hoër baba- en kindersterftalle en –siektes weens diarree, wanvoeding, ensovoorts.
Dit is belangrik om te weet dat daar oplossings is vir slagoffers van afbrekende verhoudings. Of dit nou emosionele, fisiese of finansiële mishandeling is deur iemand wat jy ken, of agtervolging en teistering deur ‘n onbekende persoon – neem standpunt in teen mishandeling. Maatskaplike diensverskaffers en die samelewing in die geheel moet die probleem daadwerklik aanpak en die weerloses beskerm word. Ongelukkig word sodanige geweld hopeloos te min gerapporteer.
Geweld is so diep gewortel in ons kultuur dat miljoene vroue dit as ‘n lewenswyse beskou. Een van die belangrikste hindernisse om geweld te bekamp, is die “kultuur van stilte”.
‘n Projek soos die Sestien Dae van Aktivisme teen Geweld poog om daardie stilte te verbreek.
Die Parys Gemeenskap Polisiëring Forum in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens van Parys ondersteun die 16 Dae Aktivisme veldtog teen Geweld teen Vroue en Kinders.

Noodnommers om te skakel.
Stop Geslagsgebaseerde Geweld Hulplyn
– 0800 150 150 /
– *120*7867# vanaf enige selfoon
Childline – 0800 055 555

 

Related Articles

Back to top button