NewsNews

Parys-sakelui en individue kry Vaal Explorer erkenning

Verskeie Parysenaars het vanjaar erkenning ontvang by die Vaal Explorer toekenningsgeleentheid wat tydens ‘n spog funksie oorhandig is.

In die “Leisure” kategorie verwerf De Vette Mosssel Parys silwer, en die Dog & Fig Brewery brons.
De Vette Mossel Parys kon boonop in die “Wedding Venue” kategorie ook ‘n bronstoekenning inpalm.
Vir die Spa-kategorie ontvang River Spa Parys brons.
Skydive Parys het weggestap met goud, en Koepel Megazip met brons in die kategorie vir Avontuur Aktiwiteite.
Waar dit by gholfbane kom het Vaal de Grace geskitter met ‘n silwertoekenning.
Parysenaar Jan Fourie het met sy onderneming, Dome Impact Tours, goud verower as uitstaande Avontuur- en Erfenis gids, en dan kon Deon Terblanche ook spog met goud in die individuele kategorie vir sy besondere ondernemingsgees met die baie suksesvolle Parys Arts Festival wat vanjaar vir die eerste keer in Parys aangebied is.
Iris Andrew se deursettingsvermoë om die Parys-museum se deure oop te hou, het aan haar brons in die individuele kategorie besorg.
Die Vaal Explorer Tourism & Information aanlyn platform, het ‘n nuwe standaard geskep vir bewusmaking van wat die groter Vaaldriehoek-streek kan bied vir reisigers, toeriste, besoekers, sakelui en plaaslike inwoners.
Wat dié streek onder die Vaal Explorer vaandel so uniek maak, is dat dit dele insluit wat naby die Vaalrivier is, en in vier provinsies val naamlik Gauteng, Mpumalanga, die Vrystaat en Noordwes.
Dorpe wat hierby ingesluit word, is
Balfour, Val Heidelberg, Meyerton, Midvaal, Henley-on-Klip, Villiers, Vaal Marina, Deneysville, Greylingstad, Oranjeville, Frankfort, Vereeniging, Vanderbijlpark, Loch Vaal/Barrage, Lindequesdrift, Parys, Vredefort en die Vredefort Koepel, Potchefstroom, Sasolburg en Heilbron.
Die geskiedenis van veral die kleiner dorpies is goed gedokumenteer en bekend aan besoekers en toeriste. Juis daarom is dit ingesluit in die groter Vaal-streek.
Of dit nou die Suikerbosrand Natuurreservaat, die Vredefort Koepel, die Vaalrivier, bekende slagvelde, riviervaarte, skydive, absailing, perderitte, zip line of bergfietsry is – dit alles en nog wat kan hier aan die toeris gebied word.
Die gedeelte van die Vaalrivier vanaf Parys tot by die Vredefort Koepel is van die besigste riviergedeeltes in die land, met verskeie watergebaseerde aktiwiteite wat werk skep vir talle gidse en ondernemings in die toerisme-sektor.
Die gedeelte bo die Barrage is weer van die besigste binnelandse riviergedeeltes in die land wat betref bootvaarte en huisbote.
Akkommodasie opsies wissel van vyf ster opsies tot huisbote, terwyl ‘n wye verskeidenheid van restaurante, winkels, spa’s en ander toerisme-aanloklikhede in die streek beskikbaar is.
Suid-Afrikaners geniet vakansies en naweek wegbreek geleenthede. Met petrolpryse wat konstant styg en reiskoste wat al duurder word, is hierdie streek beslis ‘n opsie om te oorweeg vir mense wat genoodsaak is om hul vakansies nader aan die huis te hou, of vir diegene wat binne maklike rybare afstand ‘n welverdiende ruskans wil gaan geniet.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button