Vanjaar behoort die vlieghengel-wenskild aan hulle
Vanjaar behoort die vlieghengel-wenskild aan hulle

Die boeregemeenskap van die Swartberg-distrik naby Underberg in KwaZulu-Natal, hou jaarliks ’n vlieghengel-kompetisie ten bate van die anti-veediefstal inisiatief in die omgewing.
Twee Parysenaars, Willem Durand en Gerhard van Zyl, saam met drie ander sakemanne, André Fisher (Sasolburg), Eric Nortje (Meyerton) en Michca Janse van Vuuren (Pretoria), neem die afgelope paar jaar al deel aan die kompetisie en het vanjaar met die wenskild weggestap.
Kompetisiereëls vereis dat forelle met vlieghengelgerei gevang word, en die wenners word bepaal deur die gekombineerde lengte van die 10 langste visse van elke span oor twee dae. Soos vorige jare het die kompetisie lang ure op die water geverg, waarin vaardigheid getoets is en sterk klem geplaas is op spanwerk.

Willem het sewe van die span se langste visse gevang, met die langste vis wat 61cm gemeet het. Nuwe tegnieke, innoverende vlie- gies en baie konsentrasie het ’n totaal van oor die 60 forelle vir die span beteken, waarvan Gerhard 27 gevang het. Baie van hul visse het die 50cm lengte oorskry.
Aksie was daar genoeg, met van die visse wat uit die water gespring het in die hoop om van die hoek ontslae te raak. Die sterk visse op ligte stokke en hengelgerei, het ook gesorg vir adrenaliengevulde oomblikke en soms die teleurstelling van daardie grote wat wegkom.
Willem en sy span was die wenners van vanjaar se kompetisie, met ’n totale lengte van 576cm, na jare se wedywering met 14 ander spanne, en die uitdagings van reën, hael en soms snikhete dae soos wat vanjaar in die berge beleef is.



