
Vir twee maande was dié boom wat dwarsoor die pad gelê het die spreekwoordelike wortel van die kwaad vir inwoners van Floydstraat.
‘n Stormwind het hom omgewaai. Die munisipaliteit het gekom en van die takke kom afsaag, maar toe so laat lê.
Oproep na oproep en niks is gedoen om die boom te verwyder nie.

Later het tuindienste van ‘n inwoner in die straat van die takke weggery, maar die groot boomstomp het in die pad bly lê.
Maandagmiddag het Gazette ‘n berig oor die boom op Gazette se webblad en Facebookblad geplaas. Skaars was die berig geplaas of We Care vrywilligers het dadelik gereageer en Gazette laat weet dat hulle sal help om die boom te verwyder met die hulp van Botes Sand.
Dinsdagoggend vroeg was die boom gelaai. Dankie aan We Care en Botes Sand – julle het ‘n verskil gemaak!




