NewsNews

Wat om te doen as jou hond vergiftig is

Hondevergiftiging is ’n realiteit in talle dorpe, soos ook Parys, en daarom is dit belangrik dat inwoners weet waarvoor om uit te kyk en ook wat om te doen wanneer ’n hond vergiftig word.

Foto ter illustrasie. Foto: Pets4Homes

Foto ter illustrasie. Foto: Pets4Homes

 

Hondevergiftiging is ’n realiteit in Parys soos ook in ander dorpe, en daarom is dit belangrik dat inwoners weet waarvoor om uit te kyk en ook wat om te doen wanneer ’n hond vergiftig word.

Volgens Herman van der Sluis, bestuurder van PAWS, is daar verskeie gifstowwe wat gebruik word by die vergiftiging van honde.

 

Die mees algemene gifstowwe sluit in:

• Aldikarb (Temik) is swart korreltjies wat soos papawersaad lyk. Volgens Health24 is Temik ’n hoogs toksiese insekdoder wat op gewasse soos katoen gebruik word.
• Karbofuraan (Curaterr of Carbofuran) is growwe blou korreltjies wat soos waspoeier lyk. Volgens die PAN Pesticides Database is Curaterr ook ’n hoogs toksiese insekdoder wat gevaarlik is wanneer dit ingeneem, sowel as ingeasem word.
• Metomiel (Lannate) is ’n wit poeier wat lyk soos talk, of dit kom in die vorm van liggeel korrels. Dit is ook ’n insekdoder en is hoogs toksies vir mense en diere.
• Killen Super is ’n vlieëlokaas (fly bait). Dit lyk soos ligbruin suiker en is toksies wanneer dit geëet of aangeraak word sê Bayer Environmental Science.
Troeteldiereienaars moet seker wees hulle weet wat die simptome van vergiftiging is sodat hulle weet wat om te doen in so ’n geval.

Volgens Van der Sluis sluit die simptome in:

• Verkleinde pupille wat nie op lig reageer nie;
• Swaar asemhaling;
• Naarheid en braking;
• Verlamming;
• Speekselafskeiding en
• Bewerasie.

Van der Sluis sê indien ’n troeteldiereienaar sien of vermoed hul hond het gif ingekry, moet ’n bolletjie so groot soos ’n ertjie van seeppoeier gerol word en by die hond se keel afgegooi word. Dit sal help dat die hond braak.

Gee daarna tien aktiewe koolstoftablette per 5 kg liggaamsmassa met baie drinkwater en ’n bietjie sout vir die hond.
Spuit ook met 4 mg per kg liggaamsmassa Atropiensulfaat binnespiers. Hou die hond se pupille dop. Sodra die pupille weer verklein, spuit weer Atropiensulfaat. Herhaal dit tot die pupille normaal op lig reageer.

As die hond reeds lê, moet nie braking induseer nie, maar spuit slegs Atropiensulfaat.

Hoewel Atropiensulfaat by verskeie apteke te koop is, is dit beter om eerder die hond so gou moontlik by die naaste veearts kry om dit vir jou te doen.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button