News

Sanral gaan nie verdere e-toldagvaardigings uitreik nie

Sanral gaan nie verdere e-toldagvaardigings uitreik nie

Geen verdere dagvaardings sal  teen padgebruikers uitgereik  word vir die nie-betaling van Gautengse e-tolrekeninge nie.

Daar sal  wel voortgegaan word met die dagvaardings wat reeds uitgereik is in dié verband en dat wysigings aangebring sal word om verdere uitstaande fondse ook te eis.

Die VF Plus sê in ‘n verklaring hy beskou die inligting aan die een kant as bemoedigend aangesien padgebruikers nie verder las sal hê van nuwe dagvaardings nie, maar beskou die voortsetting van die regsproses vir die bestaande dagvaardings as ‘n mors van geld en tyd.

Die minister het aangedui dat alreeds R 4,6 miljoen tot en met Augustus 2018 bestee is aan regskostes oor boetes

Volgens die VF Plus beteken die feit dat gedagvaarde padgebruikers goeie regsgronde het om verweer aan te teken, dat hofsake lank en uitgerek sal wees en net verdere verspilde uitgawes sal veroorsaak. “Daardie geld kon eerder aangewend gewees het om bestaande paaie te herstel waar nodig.”

In antwoord op dieselfde vraag het die minister die geprojekteerde inkomste en werklike inkomste van die e-tolstelsel per maand sedert die stelsel aangeskakel is, aangedui. Daaruit bly dit duidelik dat die geprojekteerde inkomste meestal nie gerealiseer het nie en op ʼn paar uitsonderings na is die inkomste meestal onder R80 miljoen per maand.

Hierdie is ook ‘n duidelike aanduiding van die gebrek aan legitimiteit van die stelsel en dat e-tolbetalings nie plaasvind soos verwag nie.

‘n Verdere aanduiding van gebrek aan legitimiteit van die stelsel word aangedui deur die syfers gegee oor geaktiveerde en ge-deaktiveerde e-skyfies. Oor die tydperk van Desember 2013 tot Oktober 2018 was ‘n totaal van 2 363 514 e-skyfies geaktiveer, maar ‘n totaal van 1 166 570 ge-deaktiveer wat bykans 50% van e-skyfies uitmaak. Aangesien dit meestal besighede is wat van e-skyfies gebruik maak, is hierdie syfers ‘n aanduiding van hoe selfs besighede die e-tolstelsel boikot.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button