News

Flinkdink met musiek saam met die JMI Strykerstrio

Kom toets jou kennis met ’n “Flinkdink met Musiek” oggend met die mooie klanke van die JMI Strykerstrio

Alle musiek het stories. Kom deel in die pret. “Ons maak musiek en die gehoor herken die tema, komponis, blyspel of ander interessante kenmerke in die werke wat uitgevoer word.”
Kom toets jou kennis met ’n “Flinkdink met Musiek” oggend met die mooie klanke van die JMI Strykerstrio, bestaande uit twee viole en ’n tjello. Die musikante is Serge Cuca (1ste viool), Daline Mitchley (2de viool) en Gerrit Koorsen (tjello).

Serge Cuca op die viool.

Daline Mitchley op die viool.

Gerrit Koorsen op die tjello.

Die program is saamgestel deur Elsabé Laubscher van die JMI.
“Flinkdink met Musiek” word gehou by die NG Kerk Vredefort op Sondagoggend 18 November om 11:30.
JMI STRINGS is professionele musici wat graag hul talent met luisteraars deel. Die musiek wat hulle uitvoer wissel van lig klassiek tot opera, blyspele en bekende popliedjies.
The Johannesburg Music Initiative (JMI) het reeds ’n huishoudelike naam geword in die Suid-Afrikaanse musiekindustrie waar dit roem op die suksesvolle uitvoering van ’n verskeidenheid van musiek genres. JMI het al vir verskeie onvergeetlike optredes gesorg by onder meer Huisgenoot Skouspel en Gospel goes Classical.
Hulle poog om die waardering vir musiek aan te moedig, met onder meer ook hul opvoedkundige program, “A Hip-Hop Guide to the Orchestra” wat regoor Suid-Afrika bekend is.
Die uiters talentvolle trio uit hierdie orkes sal te hore wees by Versnit Somer in die NG Kerk Vredefort op die genoemde datum. Erna Rademan het belowe om top musici Vredefort toe te bring en sy doen haar woord gestand.
“Versnit Somer” beloof om ‘n baie besondere ervaring van musiek in die lieflike ruimte van Vredefort se NG Kerk te wees. ‘n Viering van somer, son en skoonheid.
Kaartjies is te koop by Erna (082 565 1085), Montagu Vrugte (langs Checkers in Parys), La Vie & Rose, National Roadhouse en die Vredefort NG Kerkkantoor. Maak seker jy kry jou kaartjies betyds.

Related Articles

Back to top button