NewsNews

Moontlike mynbedrywighede kan Potch se water raak

Moontlike mynbedrywighede kan Potch se water raak

Kommer bestaan oor die moontlikheid van mynbedrywighede naby die Bovenste Oog, een van die waterbronne in die Mooirivier opvangsgebied.

Dit volg na ’n advertensie in die Potchefstroom Herald van 25 Oktober 2018 waarin Alkemu Precision (PTY) LTD kennis gee dat hulle aansoek doen vir prospekteerregte vir goud in dié omgewing.

In die advertensie word die volgende plase geoormerk: “Gedeeltes 1, 2 en RE van die plaas Buchansvale 61 IQ, gedeeltes 1 en RE van die plaas Somerville 62 IQ, gedeeltes 1-7, 11-15,17-30 en RE van die plaas Klerkskraal 65 IQ, gedeelte RE van die plaas Eileen’s Home 67 IQ, gedeeltes 10, 11, 13, 19 en RE van die plaas Bovenste Oog van Mooirivier 68 IQ en gedeelte RE van die plaas Bovenste Oog van Mooirivier 271 IQ geleë in die landdrosdistrik van Ventersdorp.

As deel van die omgewings-impakstudie word persone of instansies wat hierdeur geraak word, asook ander belange- of geinteresseerde partye genooi om te registreer en enige kommentaar of kommer te stuur na me. Boipele Motlhatlhedi nie later as 21 November 2018.

Die publiek word ook genooi om kommentaar te lewer en dokumentasie te besigtig wat vanaf 21 November tot 24 Desember 2018 beskikbaar sal wees.

Die kontakbesonderhede is me. Boipele Motlhatlhedi 083 473 8300 of Bongani Simelane 076 246 3677. Epos: boipelo@singoconsulting.co.za of simelanegb@gmail.com.

Die eienaar van die grond waarop die Bovenste Oog geleë is, mnr. Jaco Prinsloo, het Vrydag, toe die Herald hom daaroor geskakel het, nog niks van dié aansoek vir prospektering geweet nie.

Hy het onmiddellik sy kommer uitgespreek oor die moontlike invloed wat prospektering en of mynboubedrywighede wat daarop kan volg, op dié uiters belangrike waterbron kan hê. Nie net vir boere, en veral besproeiingsboere, in die omgewing nie, maar op die hele Mooirivier waterstelsel waarvandaan Potchefstroom hul drinkwater kry.

Die Bovenste Oog is een van die twee belangrikste waterbronne van die Mooirivier. Die ander een is die Gerhard Minnebron tussen Potchefstroom en Carletonville.

Mnr. Stanley Rakhadani, senior konsultant by Singo Consulting, het namens die aansoeker laat weet dat volle prosedures wat nodig is vir die aansoek gevolg word en dat ’n openbare deelnameproses ook deel daarvan is. Dokumentasie sal beskikbaar wees vir almal wat hierby ‘n belang het.

Hy sê ander staatsdepartemente, onder meer die Departement van Waterwese, word ook in die proses betrek. Hy sê dat daar tydens die prospekteerproses geen water benodig word behalwe vir personeel nie.

Hy het ‘n kaart verskaf van plase wat in die proses geraak word. Hy het versoek dat navrae aan hom gerig kan word aangesien hulle aangestel is om dit namens die aansoeker te hanteer.  Sy kontaknommer is 078 840 9798.

Hulle sou Donderdag 8 November ’n inligtingsessie in Ventersdorp hou, maar dit is uitgestel tot aanstaande week.  Die nuwe datum is nog nie bekend nie, maar die Herald sal dit bekend maak sodra dit ontvang word.

Die Departement van Waterwese het met druktyd nog nie gereageer op navrae deur die Herald nie.

Me. Mariette Leferink, hoof uitvoerende beampte van die Federasie vir Volhoubare Ontwikkeling, het nadat die Herald hulle daarvan in kennis gestel het, as ‘n belangegroep geregistreer.

Dié federasie bestaan uit burgerlike organisasies wat verbind is tot die verwesenliking van die grondwetlike reg op ‘n omgewing wat nie skadelik vir gesondheid of welsyn is nie, die omgewing volhoubaar te bestuur en te beskerm vir toekomstige geslagte.

Volgens Lieferink val die area vir die beoogde prospektering binne ’n varswater ekostelsel prioriteitsgebied.

Sy sê hulle is dus baie bekommerd oor enige aktiwiteit wat onmiddellik of met aksies wat daaruit kan volg, soos mynbou, die watersituasie negatief kan raak.

Sy het die aansoekers ook reeds per brief gewys op die sensitiwiteit en belangrikheid van die area wat watervoorsiening stroomaf betref.

Related Articles

Back to top button