NewsNews

Artillerieskool help matrieks om beter te presteer

Die matriekgroep van Resolofetse Sekondêre skool woon van 22 Oktober tot 26 November by die Artillerieskool waar hulle lokale gegee word om rustig te kan sit en leer vir hul toetse en waar hulle dan ook die eksamen aflê.

Die Artillerieskool op Klipdrif buite Potchefstroom maak vanjaar weer eens ’n verskil in die lewens van 61 matriekleerders wat tans hul matriekeksamen moet voltooi.

Die matriekgroep van Resolofetse Sekondêre skool woon van 22 Oktober tot 26 November by die Artillerieskool waar hulle lokale gegee word om rustig te kan sit en leer vir hul toetse en waar hulle dan ook die eksamen aflê.

Volgens die bevelvoerder van die Artillerieskool, kol. Dawid Schoonwinkel, het die Artillerieskool reeds in 2010 hierdie inisiatief saam met Resolofetse aangepak om leerders die geleentheid te gee om beter in hul matriekeksamen te presteer en so ook ’n groter kans tot tersiêre studies het.

“Die matriekslaagsyfer by die skool was 29% in 2009. In 2010 het ons met die projek begin en die slaagsyfer van daardie jaar het gestyg na 65%,” sê Schoonwinkel.

Hy sê die jaar daarna het die slaagsyfer weer gestyg na 81,7% en hierdie gemiddelde slaagsyfer word tot nou toe deur die skool gehandhaaf.

“Vanjaar mik ons vir ’n 100% slaagsyfer,” sê Schoonwinkel.

Hy sê dat die Artillerieskool ’n baie suksesvolle eenheid is en hulle wil terugploeg in die gemeenskap. Daarom het hulle ’n skool gekies wat wel die hulp en ondersteuning nodig het. Die administratiewe gebou van die skool het verlede jaar afgebrand en is steeds nie herbou nie. “Dit is nie ’n goeie omgewing vir die kinders om in te leer of eksamen te skryf nie,” sê Schoonwinkel.

Kol. Dawid Schoonwinkel wys 'n sertifikaat van waardering van die skool.

Kol. Dawid Schoonwinkel wys ‘n sertifikaat van waardering van die skool.

Baie van hierdie leerders kom ook uit armoedige huise uit en het somtyds nie eers elektrisiteit by hul huise nie.
“Ons bied hulle slaapplek, gebalanseerde en gesonde maaltye en studielokale waar hulle deur die loop van die eksamen kan leer vir hul toetse,” sê hy. Verder is die saal by die Artillerieskool geïnspekteer deur die onderwysdepartement en geakkrediteer as ’n assesseringsentrum.

“Ons hoop dat ander eenhede of besighede wat ook die fasiliteite het, ook ’n soortgelyke projek sal aanneem om meer matriekleerders die kans tot ’n beter toekoms te gee,” sê Schoonwinkel.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button