NewsNews

Fochviller vierde in nasionale kompetisie

“Moenie stilsit en wag dat dinge gebeur nie, wees die een wat dinge laat gebeur.”

Dit is die woorde van die 43-jarige mev. Engela Breytenbach, ‘n Fochviller wat onlangs na die finaal van ‘n nasionale kompetisie vir dowes deurgedring het.
Breytenbach, wie se entoesiasme en lewenslus motivering vir baie ander kan wees, was een van die agt getroude vroue wat in hul afdeling vir die finaal van die Mnr. Mej. en Mev. Doof SA-kompetisie gekwalifiseer het. Sy is ook as deel van die groep van 6 tot 13 Oktober in Pretoria en die Hartbeespoortdam-omgewing beoordeel en trakteer.
Sy het op die ou einde die vierde plek in die afdeling vir getroude vroue ingepalm.
“Dit was wonderlik. Alles was baie harde werk, maar ek het nooit gedink en sou die finaal haal nie. Hulle het ons soos prinse en prinsesse laat voel,” het Breytenbach Maandag haar ondervinding aan die Herald beskryf.
Volgens haar het die beoordelaars veral na elke finalis se persoonlikheid, en hoe hul in sekere situasies optree, gekyk. Die finaliste moes byvoorbeeld een dag sonder enige grimering opdaag, en moes op ‘n ander dag saam op die agterkant van ‘n bakkie klim, nadat die motor wat hulle vervoer het, gebreek het. Breytenbach is nou nog nie seker of dié voertuig regtig stukkend was nie.
Breytenbach sê egter dat dit vir haar die lekkerste was om met soveel ander lede van die hardhorende gemeenskap in aanraking te kom. Die hele ondervinding het haar ook gemotiveer om gebaretaal te leer en na ander hardhorendes in die omgewing uit te reik.
Sy het byvoorbeeld reeds met haar gehoorterapeut gepraat oor hoe hulle ou gehoorapparate wat ander mense nie weer wil hê nie, vir hardhorendes wat nie sulke hulpmiddels het nie, kan gee.
“Ek sal graag alle dowes in die omgewing wil ontmoet sodat ons dowe gemeenskap kan saamstaan. Ek wil ook graag gebaretaal aanleer en dit na ons dorp bring, deur klasse aan te bied. Horendes sal dowes dan makliker kan verstaan en dit sal veroorsaak dat dowes meer waardig geag sal word,” sê Breytenbach.
Sy het ook genoem van die gehoorgestremdes wat sy tydens die kompetisie ontmoet het, het ook kogliêre inplantings, wat hul gehoor drasties verbeter het.
“Daar is mense wat hulle karre verkoop om dit te kry. Een vrou het haar huis verkoop sodat sy en haar dogter dit kan kry, maar dis alles die moeite werd,” vertel Breytenbach.
Volgens die borrelende Breytenbach het die kompetisie haar weer nuwe lus gegee om alles om haar aan te pak.
“Ek het met die kompetisie dinge reggekry wat ek nooit gedink het ek sou kon doen nie. Ek sal dit enige tyd weer doen. My een groot wens is egter dat die wêreld daar buite ons gebrek sal aanvaar en daarmee saamleef,” sê sy.
Inwoners wat met Breytenbach in aanraking wil kom, kan haar by 073 305 2546 skakel.

For our English readers
Mrs Engela Breytenbach, a beautician and hairdresser from Fochville who is also a former teacher of Goudwes, walked off with the fourth position of her category during the Mr, Miss and Mrs Deaf South Africa Competition. She would like get in contact with other deaf or partially deaf people in the area to try to make others more aware of this disability.
Her biggest wish is for people throughout the world to accept that there are some people who are disabled and to respect them for who they are.

Die groep finaliste het selfs ‘n draai by Pretville gaan maak.

Related Articles

Back to top button