NewsNews

Potchefstroom plaasmeisie veg met ses rowers

“My dogter het besluit dis lewe of dood, maar hulle sal haar nie verkrag nie, sy sal veg tot die einde toe.”

“Ek het haar sterk grootgemaak. Sy is ’n plaasmeisie en sy kan haarself verdedig.”

So sê die gebroke pa van Ventersdorp, Jacques Viviers, oor sy dogter wat op haar verjaarsdag net-net uit die kloue van ses wrede aanvallers ontsnap het. Nanna Viviers (25) en haar vriend Albert John (23), is vroeg Saterdagoggend in hul huis in Inyongastraat, Bailliepark oorval en wreed aangerand.

Nanna is byna twee keer deur haar aanvallers verkrag, maar met die krag van die Here kon sy en Albert lewendig daarvan afkom, sê haar pa.

Volgens Albert het hy en Nanna geslaap toe hulle honde begin blaf het.

Albert John en Nanna se pa, Jacques Viviers. Foto: Marianke Saayman

Albert John en Nanna se pa, Jacques Viviers. Foto: Marianke Saayman

“Nanna het eerste wakker geword en toe maak sy my ook wakker. Toe ek my oë oopmaak staan al ses van hulle om ons bed,” sê hy.

Hy sê van die mans het balaklawas aangehad en hulle was gewapen met bobbejaan-moersleutels, ’n skroewedraaier, mes en vuurwapen.

“Nanna het probeer om almal in die kamer rustig te hou. Hulle het my toe met skoenveters vasgebind en twee van hulle het haar op haar maag gegooi en haar broek probeer aftrek.”

Die mans het glo vir Albert gesê dat hy sal toekyk hoe hulle sy meisie verkrag. Albert sê hy weet nie hoe Nanna losgebreek het nie, maar toe hy weer sien, was sy in die badkamer besig om die twee hondjies by die venster uit te gooi. Toe gryp die mans haar weer in ’n tweede poging om haar te verkrag.

“Hulle het haar agter haar kop geslaan. Ek begin toe stoei, maar vier van hulle was op my besig om my te skop en te slaan,” sê hy.

 

Nanna Viviers die oggend nadat haar oog geopereer is. Foto: Verskaf

Nanna Viviers die oggend nadat haar oog geopereer is. Foto: Verskaf

“Nanna het op ’n manier krag gekry, die mans van haar afgeskop en die paniekknoppie in die gang gedruk,” vertel hy. Sy het toe buitentoe gehardloop, in haar motor geklim en die toeter hard gedruk. Die aanvallers het met van hul besittings gevlug.

“Sy het eintlik ons lewens gered. As dit nie vir haar was nie, was dinge dalk soveel erger,” sê Albert.
Jacques sê sy dogter is ’n voorbeeld vir enigeen wat hulself in so ‘n situasie bevind.

“Jy moenie gaan lê nie. My dogter het besluit dis lewe of dood, maar hulle sal haar nie verkrag nie, sy sal veg tot die einde toe.”

Nanna se oog is Dinsdagmiddag (23 Oktober) in Pretoria geopereer. Haar oogbank is gebreek en daar is skade aan haar sinusholtes.

Die spesialis het vir Jacques gesê dit is ‘n wonderwerk dat Nanna se oog nie gebars het nie, aangesien sy baie hard op haar oog geslaan is.

Sy was Woensdagoggend na die operasie nog in geweldige pyn, maar volgens Jacques lyk dit nie asof haar oog enige permanente skade gekry het nie. Jacques sê dat dit wat met sy dogter en met Albert gebeur het, onaanvaarbaar is.

Nanna en haar pa Jacques in gelukkiger tye. Foto: Verskaf

Nanna en haar pa Jacques in gelukkiger tye. Foto: Verskaf

“Mense is geneig om te sê dat dit Suid-Afrika is en mens moet maar vrede maak daarmee, maar ek sê dis onaanvaarbaar, elke mens het sy reg op lewe en bestaansreg – veral ons jongmense wat nog ‘n toekoms moet bou vir hulself,” sê hy.

Nanna het in Ventersdorp grootgeword en was in Potchefstroom Gimnasium op skool. Albert woon sy lewe lank al in Potchefstroom en is ’n oud-Volkie. Albert en Jacques sê dit is vir hulle skrikwekkend hoe onveilig Potchefstroom die afgelope ruk geword het.

“Dit is kommerwekkend en al wat ons daaraan kan doen is om saam te staan en ‘n standpunt te begin maak,” sê hy.

Hy sê die probleem is wetteloosheid in die stad en ‘n tekort aan mannekrag in die polisie. “Ek was verslae. Ek was stomgeslaan toe ek sien wat hulle aan haar gedoen het.

Albert John kort na die aanval. Foto: Verskaf

Albert John kort na die aanval. Foto: Verskaf

Ek kan nie dink dat mense so iets aan ‘n onskuldige mens kan doen nie. Hierdie kinders beteken iets vir die samelewing en hulle het niemand gepla nie.

“My dogter se verjaarsdagpartytjie was beplan vir Saterdag en hulle het Vrydagaand rustig gaan slaap. Toe kom ses mans en maak absolute inbreuk op hulle lewens en privaatheid. Dit is absoluut skokkend en ek is baie teleurgesteld,” sê ’n emosionele Jacques.

Hy wil wel die polisie en ondersoekbeamptes wat by hulle saak betrokke is, bedank vir hul harde werk en dat hulle soveel as wat hul kan doen om die kriminele op te spoor. Polisiewoordvoerder ao. Mpho Manyoba sê niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Die paartjie se huis was vol bloed. Foto: Verskaf

Die paartjie se huis was vol bloed. Foto: Verskaf

 

Related Articles

Back to top button