Jannie du Plessis – Vaalweekblad

Shawn Fouché (40), eienaar van Electroshaw en bekende sakeman van Naboomspruit (Mookgophong) is vanoggend, Saterdag 20 Oktober, ongeveer 05:00 op slag dood toe hy en een van sy werkers, Henko Barnard, met ‘n Mercedes Vito in ‘n ongeluk betrokke was. Die ongeluk het sowat 4,5 km noord vanaf die motorhawe en Saloon 2000 op die Potchefstroom-pad oorbrug, op die N1 snelweg gebeur.
Volgens Henko het hulle werk in die Kaap gaan doen en is gistermiddag 16:00 uit die Kaap op pad terug Naboomspruit toe, toe die ongeluk gebeur het. Shawn is die eienaar van die besigheid. Shawn se Pa, Piet Fouché, het vanaf Germiston gehaas na die ongelukstoneel waar hy sy seun, wat met ‘n kombers toegemaak was, agter die stuur gevind het waar hy vasgepen is. Piet het sy hand op sy seun gelê en onbedaarlik gehuil. Shawn se swaer het aan Vaalweekblad gesê dat Electroshaw in die laaste tyd goed gedoen het
Volgens Henko, wat ten tyde van die ongeluk geslaap het, kon hy egter niks onthou van die ongeluk nie. Henko het beserings aan die gesig opgedoen. ER24 paramediese personeel was op die toneel en het Shawn dood verklaar. Henko wou egter nie per ambulans hospitaal toe geneem word nie en is later deur familie na die hospitaal geneem.
Volgens die bestuurder van die vragmotor, Steven Punzul, wat saam met sy seun in die vragmotor was om voer by die De Deur vendusie te gaan verkoop, het hulle net die slag gehoor en het die trok heen en weer geswaai voor hulle ‘n ent verder tot stilstand gekom het. “Die skade aan die trok kan reggemaak word maar die man het sy lewe verloor,” het Steven aan Vaalweekblad gesê.
Volgens inligting laat Shawn sy vrou en twee kinders agter. Die saak word deur die Barrage polisie ondersoek.






