NewsNews

Plakkers maak hul langs die Mooirivier tuis

Plakkers het hulself langs die Mooirivier by die brug naby Burger- en Retiefstraat tuisgemaak.

Plakkers het hulself langs die Mooirivier by die brug naby Burger- en Retiefstraat tuisgemaak.

Volgens DA raadslid, Bertus le Roux, maak dit deel uit van die roete wat deur die ParkRun deelnemers gebruik word.  Die betrokke departemente by die munisipaliteit is hieroor ingelig en ‘n regskennisgewing is op die plakkers bedien om die gebied te verlaat.“Ek glo daar is nie net ‘n potensiële veiligheidsrisiko vir inwoners in die area nie, maar ook ‘n gesondheidsrisiko, want daar is geen ablusiegeriewe in hierdie gebied nie”, het Le Roux gesê.

Toe die Herald Dinsdagoggend met die plakkers gesels het, het hulle bevestig dat hulle vyf is wat daar woon en dat hulle nou al vir drie weke lank daar is. Kagiso (28) sê hy het dit maar sy huis gemaak, want hy het nêrens heen om te gaan nie. Die ander plakkers is nou maar sy familie. “Ek is van Delareyville, twee jaar gelede het ek Potch toe getrek vir werk, maar drie weke gelede het my kontrak klaargemaak,” sê hy.

Toe Herald hom vra hoekom hy dan nie terug huis toe gaan nie het hy gesê sy omstandighede by die huis is erger as hier in Potch. “My familie is onder die indruk dat alles okay is met my. Dit is wat ek vir hulle sê.” “Ek het ‘n kind om na om te sien. Ek wil huis toe gaan, maar as ek aan my kind dink moet ek maar hier bly en hoop ek kry eendag weer ‘n werk,” sê hy. Thabo (21), een van die ander plakkers, is van Orkney. Hy sê hy het Potchefstroom toe getrek omdat hy hier ‘n werk gekry het. Noudat die werk klaar is kan hy nie terug huis toe gaan nie want hy het geldelike probleme. Volgens Kagiso en Thabo was hulle motors by die taxi-staanplek om geld te kry om vir hulle kos te koop. Hulle kook hulle kos in konfytblikke.

“As ons iets kry deel ons dit altyd onder mekaar. Ons eet nooit voor die ander een nie,“ sê Kagiso. Terwyl Thabo op ‘n stuk kartondoos slaap met een rooi kombersie, slaap Kagiso op ‘n stuk polistireen wat oorgetrek is met plastiek. Hy sê die polistireen help baie teen die koue.

Terwyl die Herald met die plakkers gepraat het, het ons gesien dat hulle waslappe, stortseep en tandeborsels het. “Ons was met die rivier se water. Ons kook dit eers, dan was ons daarmee,” sê Kagiso. Kagiso en Thabo sê dat hulle bewus is van ‘n huis vir straatkinders maar weens hulle ouderdomme kan hulle ongelukkig nie daar gaan bly nie . Volgens Kagiso is hulle nie gomsnuifers nie en hulle gebruik ook nie dwelms nie.

Hy sê hulle het hierdie gebied gekies omdat dit veilig is om hier te slaap.

Een van die plakkers.
Een van die plakkers.
Kagiso besig om sy tandeborsel uit sy rugsak te haal. Foto: Evashni Jansen
Kagiso besig om sy tandeborsel uit sy rugsak te haal. Foto: Evashni Jansen

Related Articles

Back to top button