News

Nagenoeg 100 visse gekry met arrestasie van twee

Die mans sou Maandag voor die hof verskyn het.

Twee persone is verlede week in die Vredefort Koepel in hegtenis geneem na skitterende samewerking tussen Vredefort Koepel GPF-lede en die Vredefort-polisie.
Beslag is ook op 100 vars visse gelê, waaronder modderbekke, moggels en geelvisse wat met nette in die Vaalrivier gevang is, asook ’n spannet, kano en ’n wit Ford Ranger. Die inhegtenisname was danksy die oplettendheid van ’n beriggewer wat opgemerk het dat die verdagte voertuig vir ’n week lank elke dag in en uit die Koepel beweeg het. Die Vredefort Koepel Gemeenskap Polisiëring Forum (GPF) is in kennis gestel, waarop die mans wat nie Suid-Afrikaanse burgers is nie, met die visse, net en kano vasgetrek is.


Beriggewers is van onskatbare waarde in die bekamping van misdaad en het die nuutgestigte en dinamiese Koepel Boerevereniging ’n tyd gelede al die behoefte raakgesien vir ’n inligtingsfonds waarmee beriggewers betaal kan word vir inligting wat lei tot die suksesvolle inhegtenisname van vermeende misdadigers. Die fonds word deur die Boerevereniging bestuur, en die Vredefort Koepel gemeenskap dra by tot die fonds.
Die samewerking tussen die GPF en die gemeenskap, en doeltreffende inligtingsnetwerk waarmee pro-aktief opgetree kan word, het verskeie suksesvolle inhegtenisnames in die Vredefort Koepel al tot gevolg gehad.

Related Articles

Back to top button