NewsNews

Potch het al eie wapenuitleg ontploffing beleef

Die verwoesting wat Maandag (3 September) na ‘n ontploffing by die Denel ammunisie-aanleg buite Somerset-Wes gesaai is, is ook al deur Potchefstromers beleef.

Die verwoesting wat Maandag (3 September) na ‘n ontploffing by die Denel ammunisie-aanleg buite Somerset-Wes gesaai is, is ook al deur Potchefstromers beleef.
In 1990 was daar by die destydse Naschem ’n soortgelyke ontploffing. Drie mense is op slag dood en ongeveer 55 beseer.
Mev. Elizabeth Poffen het ’n hand verloor en ernstige brandwonde opgedoen. Die Herald het destyds berig dat volgens ’n ooggetuie, alles baie vinnig gebeur het.
“Daar was ’n verskriklike slag. Die dak het ineengestort en om ons het dit soos ’n slagveld gelyk,” het die ooggetuie gesê.
Die ontploffing het in die detonator-aanleg gebeur.
Org Dannhauser, wat steeds in Potchefstroom woon, het destyds 70% eerste- en tweedegraadse brandwonde oor sy hele lyf opgedoen. Hy het ook sy oog verloor en sy longe het gebrand. Dannhauser was in verskeie hospitale waar hy in die intensiewe-sorgeenhede behandel is. Dit het hom nege maande geneem om terug te keer werk toe. In die tyd wat hy herstel het, het hy 15 keer narkose ontvang, agt veloorplantings gehad asook ’n oog- en ooroperasie. Dannhauser het destyds aan die Herald gesê dat hy niks van die ontploffing kan onthou nie. Die Herald het vandeesweek weer met hom kontak gemaak.
“Dit is maar ’n groot storie. Dit vat omtrent vyf jaar om oor so iets te kom,” het hy gesê.
Vir die mense by die Denel-ammunisie-aanleg wat ook brandwonde opgedoen het, het hy bemoedigende woorde gehad.
“Dit is nie maklik nie. Met al die ongemak en seer voel dit of dit nooit gaan regkom nie. Vasbyt, moenie moed opgee nie,” het hy gesê.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button