
Spiltech is steeds besig met opruimingswerk op die R59 na twee ernstige botsings vanoggend.
In die eerste botsing net na 05:00 het twee vragmotors kop-aan-kop gebots net na die Parys vliegveld en is die R59 tussen die vliegveld buite Parys en die N1 gesluit. Daar is ure lank gesukkel om die brand te blus wat ontstaan het as gevolg van die botsing. Een van die vragmotors betrokke in die botsing het brandstof vervoer, terwyl die ander seepprodukte vervoer het.
In die omgewing van 09:00 is ‘n tweede kop-aan-kop botsing op die R59 net buite Parys aangemeld by die ingang na die Parys Golf & Country Estate. Drie voertuie was in die botsing betrokke en is ses mense in totaal beseer.
Twee van die beseerdes is speurders wat op pad was na die toneel van die vragmotor botsing is verneem. Hulle is Andre Jacobs en Shane Robinson wat per ambulans na die Emfuleni Medi Clinic geneem is.
Andile Ntloko, nog een van die beseerdes is per noodhelikopter na die Pelenomi Trauma-eenheid vervoer.
Die ander drie beseerders is na die Parys-hospitaal vervoer.
Verkeer is via die Vaal Eden pad herlei en mense is aangeraai om van alternatiewe roetes gebruik te maak.





