EntertainmentNewsNews

Die verhaal van Danie Theron se dood

Op 5 September 118 jaar gelede het kmdt. Danie Theron, die baasverkenner van die Boeremagte in die Anglo-Boereoorlog, gesneuwel.

Op 5 September 118 jaar gelede het kmdt. Danie Theron, die baasverkenner van die Boeremagte in die Anglo-Boereoorlog, gesneuwel.
En, tragies soos dit was, het my ondersoek daarna bewys hoe bevredigend geskiedenis-navorsing kan wees.
Theron en sy verkennerskorps het aan die begin van September 1900 aan die Gatsrand vertoef, naby waar Fochville later sou verrys.
Op 5 September het hy en ’n lid van sy korps gaan verken om vas te stel waarom genl. Piet Liebenberg nie, soos afgespreek, in posisie was vir ’n gesamentlike verrassingsaanval op die kolonne van genl. Hart nie. Hart was van Johannesburg na Potchefstroom onderweg.
Bo-op ’n koppie het die twee hulle in sewe Britse verkenners van die Marshall’s Horse-afdeling vasgeloop. Daarop het Theron se makker te perd die hasepad gekies. Theron het agter ’n klipkraal stelling ingeneem. Nou was dit ’n geveg om lewe en dood tussen hom en die sewe Britte.

In ’n vinnige verwisseling van skote het hy drie van hulle gedood en die ander vier gewond.

Hart, onder die indruk dat daar ’n Boerekommando op die koppie is, het blitssnel sy sewe kanonne op die koppie gerig en begin vuur. ’n Britse bron vertel dat ’n tinktinkie nie uit daardie bombardement sou kon ontsnap nie. Oplaas het ’n liddiet-granaat uit die 4,7 duim skeepskanon sy teiken gevind, en Theron se Mauser het stil geword.
’n Sersant van die Marshall’s Horse het later getuig:

“He had been killed by a lyddite shell, and half his face blown away.”

In Desember 1972 voer ek ’n onderhoud met die 88-jarige mev. Mara Malherbe, dogter van Rooi Piet Pienaar, op die plaas Elandsfontein aan die Gatsrand. Sy was sestien jaar oud toe Danie Theron die oggend by hulle plaasopstal aangegaan het van waar hy sy dood tegemoet gery het.
Sy vertel dat net voor hy sy perd bestyg het, het haar ouer suster aan sy baadjielapel ’n roset van die Vierkleur (die vlag van die Zuid-Afrikaanse Republiek) vasgesteek.
En toe, in Junie 1974, vind ek in die Britse Argief in Londen ’n lêer getiteld “Evidence re body of man killed at Wolfaardt’s farm Elandsfontein.” Dit bevat verklarings van verskeie Britse soldate van die gebeure op 5 September 1900.
Opgewonde lees ek die getuienis van kavalleris C.S. Myers van Marshall’s Horse: “I was present when the body of the man said to be Theron was found … There was a rosette on his coat with combination Transvaal-OFS colours… Later in the day I was at a farm asking for information of the enemy when a girl there told me they had passed there but one was missing which the commando told her was Theron of Krugersdorp… I showed her the rosette which she at once identified as Theron’s”.
(Berig uit Beeld 5 Sept. 2018, Terugblik deur Fransjohan Pretorius.)

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button