Lede van die Menseregtekommissie (MRK), vergesel van n groep besorgdes, het Maandag verskeie punte in die Vaaldriehoek besoek waar rou riool direk in die Vaalrivier beland. Met die besoek aan verskeie pompstasies, was daar ‘n onuithoubare rioolreuk en poele vol vuilwater.
Die afvaardiging was dit eens dat indien die MRK nie ingryp nie, sal die area tot ʼn rampgebied verklaar moet word. ʼn Ondersoek deur die MRK en ander rolspelers word nou vir 18 en 19 September beplan.
Die MRK gaan alle verantwoordelike rolspelers soos Rand Water en die departement van water en sanitasie daag om voor die kommissie te verskyn.
Die VF Plus wat deel was van die afvaardiging, het na afloop van die besoek gesê die party verwelkom die MRK se ingryping, maar eis dat die proses met daadwerklike stappe gepaardgaan om die besoedeling van die rivier te stop.
Die party sê waterbesoedeling in die Vaalrivier het reeds krisis-afmetings aangeneem wat dit gevaarlik maak vir mens en dier om te gebruik en wat reeds tot duisende vissterftes gelei het.




