‘n 46–jarige man het gister (3 September) in die Orkney landroshof verskyn op aanklagte van ontvoering.
Dit nadat hy glo die drie jarige Ongezwa Mthimkhulu in Kanana naby Orkney ontvoer het. Ongezwa is steeds nie gevind nie.
Volgens kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, het die seun se ma hom Vrydag (24 Augustus) by die kleuterskool gaan aflaai. Sy het hom later die middag kom haal, maar die oppassers het haar meegedeel iemand anders hom klaar kom haal het.
Die ma het ‘n saak van ontvoering by die Kanana polisiestasie aangemeld. Kort na die saak aangemeld is, het die KlerksdorpGesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe Eenheid (GKS) ‘n verdagte in hegtenis geneem.
Die verdagte sal in aanhouding bly tot 10 September wanneer hy amptelik vir borg aansoek doen.
Ongezwa het ten tyde van sy ontvoering ‘n swart en rooi trui, blou en wit t-hemp, swart broek en wit en swart tekkies aangehad.
Enigiemand met inligting kan sers. Tume Seteemane by (018) 464 5397 / 082 568 6909 / 082 568 6384 skakel.



