
Parys se watersuiweringswerke het vanmiddag tydelik tot ‘n stilstand gekom as gevolg van ‘n gebrek aan chemikalieë. Die Ngwathe bestuur probeer nou alternatiewe planne maak om die werke so gou moontlik weer operasioneel te kry, is betroubaar verneem.
Die krisis volg kort nadat ‘n publieke protesvergadering oor munisipale dienslewering in Ngwathe juis verlede Donderdag in Parys gehou is. Talle straatligte wat nie werk nie, slaggate, knaende probleme met watervoorsiening en swak waterdruk, verstoppings by mangate en rioolpompstasies wat oorloop is maar van die probleme wat tydens die vergadering uitgelig is.
Voeg daarby die dreigende Eskom-kragdonkerte as gevolg van Ngwathe se wanbetaling van sy Eskom-skuld, en inwoners wat kla oor die chaos met munisipale rekeninge, ongereelde meterlesings, onwettige kragverkope en die munisipaliteit se oënskynlike onvermoë om geld wat aan hom verskuldig is in te vorder.



