NewsNews

Stink riool loop al maande van begraafplaas af

Stink riool loop al maande van begraafplaas af

’n Reuse rioollek voor besighede in die nywerheidsgebied, het besigheidseienaars die afgelope jaar teen die mure uitgedryf. Duisende liter rioolwater loop al vir die afgelope jaar aan en af vanaf die begraafplaas tot in Ross-straat waar dit voor ’n paar besighede opdam.

Nico du Plooy, eienaar van Potch Panelbeaters, het reeds ’n maandelange stryd met die munisipaliteit hieroor.

“Die reuk is so erg dat mense wat hier werk kopsere en maagwerkings kry. Jou keel begin brand van die riool wat ons heeldag moet inasem,” sê hy.

Hy sê menige keer het kliënte voor sy deur omgedraai en weggery aangesien die onaangename reuk van die riool hulle wegjaag.

Die rioolwater loop soos 'n rivier by die straat af. Foto: Marianke Saayman

Die rioolwater loop soos ‘n rivier by die straat af. Foto: Marianke Saayman

Die pad vanaf die begraafplaas tot in Ross-straat is ook al erg beskadig. Motors en selfs vragmotors moet op die grond sypaadjie langs die pad ry om verby die riool te kom.

“Elke keer as die munisipaliteit die lek kom regmaak, neem dit ’n week of twee voor dit net weer begin loop,” sê Du Plooy. Die lek is verlede Donderdag (16 Augustus) reggemaak, maar teen Sondag (19 Augustus) het riool weer soos ’n rivier by die pad afgestroom.

So dam die riool voor die besighede in Ross-straat op. Foto: Marianke Saayman

So dam die riool voor die besighede in Ross-straat op. Foto: Marianke Saayman

“Ons voel magteloos, ons weet nie meer wat om te doen nie,” sê Du Plooy.
Die superintendent van die munisipaliteit se water- en rioolafdeling, Marius van der Walt, sê hulle het Dinsdag (21 Augustus) weer die rioollyn oopgemaak.

“Ons het ’n klomp klippe uit die rioollyn gehaal. Ons vermoed dat die klippe die hoof rede vir die verstopte rioollyn was,” sê hy.

Volgens hom is ’n deel van die rioollyn vervang en beoog die munisipaliteit om in die volgende finansiële jaar nog ’n deel van die lyn te vervang.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button