Sakelui van Parys wat almal lede is van die Parys Business Network het onmiddellik nadat hulp gevra is vir die Tumahole Selfhelp Association, begin om kruideniersware vir die sentrum bymekaar te maak. Met die onbaatsugtige gebaar is nou seker gemaak dat nie een van die kinders by dié sentrum honger sal ly nie.
Daar is verlede naweek by die sentrum waar 69 gestremde kinders versorg word, ingebreek en drie maande se kruideniersware gesteel. Die kruideniersware moes gebruik word om die kinders se maaltye voor te berei.
Die diefwering by die stoorkamer is oopgebuig en die kruidenierskaste letterlik leeggedra. Die drie maande se kruideniers vir die sentrum is gekoop met die toelaag wat die sentrum van Departement Maatskaplike Ontwikkeling ontvang.
Van die sentrum personeel het Dinsdagoggend uit radeloosheid gaan hulp vra by van die aangrensende besighed, en dit is hier waar Angelique Kleynhans van die sentrum se nood te hore gekom het.
Na ‘n boodskap wat sy geplaas het op die Parys Business Network se WhatsApp-groep, het talle besighede in Parys blitsig begin om kruideniersware by te dra sodat die kinders maaltye sou hê.
Danksy die ongelooflik gebaar van welwillendheid van Parys se besighede teenoor die Tumahole Selfhelp Association for the Disabled, is die sentrum se kruidenierskaste nie meer dolleeg nie, sê die sentrumbestuurder, Moses Ngalo.
Dankie aan elkeen wat hulle oor hierdie kinders ontferm het en ‘n verskil in hul lewens gemaak het.




