NewsNews

Driejarige seuntjie sterf ‘n jaar na sy pa

“Sy plekkie is leeg, sy rakkie is leeg en ons harte is baie seer.”

“Sy plekkie is leeg, sy rakkie is leeg en ons harte is baie seer.”

Potchefstroom – So sê Trudie Botha, eienaar van Tjokkerplaas, die kleuterskool in Potchefstroom wat verlede week een van hul geliefde seuntjies in ’n tragiese motorongeluk verloor het. Sy ma, wat saam met hom in die motor was, weet nog nie dat hy dood is nie.

Sakkie Buys (3) was Donderdag 16 Augustus omstreeks 18:00 saam met sy ma, Salomi Lubbe, op pad terug van Klerksdorp na Potchefstroom. Salomi se vriend, Mossie Mostert, het met sy motorfiets agter hulle gery. In ’n stadium moes hy langs die pad ry en Salomi het stadig langs hom gery met haar waarskuwingsligte aan.

“Die pad was baie stil, maar die volgende oomblik was dit net stof toe ’n trok haar voertuig van agter tref,” het ’n hartseer Mossie aan die Herald vertel.

Sakkie Buys het altyd 'n glimlag op sy gesig gehad. Foto: Facebook

Sakkie Buys het altyd ‘n glimlag op sy gesig gehad. Foto: Facebook

Hy het dadelik na haar voertuig gehardloop en Salomi onder die voertuig sien lê. Sakkie se karstoeltjie het op die grond buite die voertuig gelê, maar Sakkie was nie daarin nie.

“Ek het hom begin soek en hom in die veld sien lê. Hy het nog asemgehaal en ek het mond-tot-mond asemhaling gedoen om hom aan die lewe te probeer hou tot die ambulansdienste daar aangekom het,” sê Mossie.

Salomi en Sakkie is na Mediclinic Potchefstroom geneem, maar Sakkie het aan sy beserings beswyk. Salomi is na Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg geneem waar sy steeds behandel word. Volgens Mossie het sy swelling en bloeding op die brein gehad. Sy is nog nie heeltemal bewus van wat om haar aangaan nie en weet ook nog nie dat haar seuntjie oorlede is nie.

Salomi Lubbe, Sakkie Buys en Isak Buys.   Foto: Facebook

Salomi Lubbe, Sakkie Buys en Isak Buys. Foto: Facebook

Sakkie sou op 13 September sy vierde verjaarsdag gevier het. Sakkie se pa, Isak Buys, is byna presies ’n jaar gelede aan ’n hartaanval dood. Trudie sê Sakkie was ’n opgewekte, intelligente, gehoorsame seuntjie wat nooit geskroom het om vir die onderwysers by die skool te vertel as ’n ander leerder die reëls oortree het nie. Hy was ook lief vir konsert hou en was opgewonde toe Tjokkerplaas onlangs begin oefen het vir hul jaarlikse konsert.

“Hy was baie lief om in die sandput te speel en het altyd die ander mammas in die oggende by die hekkie ingewag om hulle te groet,” sê Trudie.

Sakkie Buys en sy ma Salomi Lubbe.  Foto: Facebook

Sakkie Buys en sy ma Salomi Lubbe. Foto: Facebook

Trudie sê Sakkie het sy pa se dood ook baie goed verwerk en was deel van die Tjokkerplaas familie. “Hy was ’n klein liefie en het diep in ons almal se harte ingeklim. Ons mis hom vreeslik baie. Dit is ’n harde ding vir ons almal – ons het ’n familielid verloor,” sê sy.

Trudie sê Salomi is ’n baie ondersteunende ma vir Sakkie. “As daar enige onsekerheid rondom Sakkie was, het sy dadelik skool toe gekom. Sy leef vir haar kind. My hart gaan uit na haar toe.”

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button