
Parys – Talle sakevroue van Parys het Dinsdag self tyd ingeruim om die ingang na Parys van Sasolburg-kant skoon te maak. Die vroue, en ook ’n paar manne het met grawe, besems, snoeiskêre en vullissakke in die hand, blitsvinnig gewerk en sommer baie vermag.
Selfs die bande waarin vroeër blomme geplant was vir die dorp se blommefees, maar nou net oorgroei was met onkruid, is opgetel vir ’n netjieser voorkoms. Dit sal gestoor word sodat dit later weer gebruik kan word.



Hierdie is die eerste projek van vele wat sal volg.
En dit alles die handewerk van die Business Ladies Club wie se slagspreuk immers nie verniet, “We do deals on heels” is nie.
Daar is gereël vir bakkies om vullis weg te ry, petrol tuintoerusting, emmers, seep, water en warm persoonkikhede, waarmee met oorgawe ten spyte van ’n besige skedule gewerk is om ’n verskil te maak, vertel Berti Cornish, voorsitter van die klub. Daar is besluit op die skoonmaakaksie omdat Parys afhanklik is van toerisme, en die voorkoms van die dorp ’n beeld uitdra aan mense wat die dorp besoek.
Die gedagte om ’n klub vir sakevroue van die dorp te stig om die dorp te bemark, het sowat 3 maande gelede posgevat, toe n handjievol dames bymekaar gekom het oor ’n koppie tee.
Die dames vergader een keer per maand (elke 2de Maandag van die maand) en enige sakevroue wat graag wil deel wees, kan vir Berti skakel by 072 837 5434, of die ondervoorsitter, Corien by 082 320 3183 om die volgende vergadering by te woon.




