NewsNews

Kragskok vir Ngwathe

‘n Publieke protesvergadering oor die Eskom-krisis en ander diensleweringskwessies word vanaand Donderdag 23 Augustus om 18: 00 in die skoolsaal van Parys Hoërskool gehou.

Eskom se geduld is op met Ngwathe se agterstallige skuld aan dié kragvoorsiener. Soveel so dat Eskom reeds ‘n kennisgewing aan die Ngwathe Munisipaliteit gestuur het. Die munisipaliteit bedien Parys, Vredefort, Heilbron, Edenville en Koppies.
Eskom wou hom egter nog nie uitlaat oor die besonderhede van die kennisgewing nie.
Ngwathe self het verlede Donderdag ‘n pamflet versprei waarin inwoners en besighede wat agterstallige diensterekeninge by die munisipaliteit het, kennis gegee is dat sou agterstallige skulde van meer as 120 dae nie betaal word nie, hul dienslewering môre, 24 Augustus opgeskort word, totdat betaling ontvang is, of reëlings getref is vir afbetaling.
In dieselfde pamflet word gesê dat elke munisipaliteit die verantwoordelikheid het om volgens die konstitusie basiese dienste aan ‘n gemeenskap te lewer wat moontlik gemaak word deur die gemeenskap se maandelikse betaling vir munisipale dienste.
Dan word gesê – as gevolg van wanbetaling vir munisipale dienste, deur sommige belastingbetalers en besighede – kan Ngwathe nie sy afbetaalplan aan Eskom vir sy agterstallige Eskom-skuld nakom nie. Eskom is luidens die pamflet van voorneme om glo vanaf 1 September geskeduleerde daaglikse beurtkrag vir Ngwathe in te stel.
Die munisipaliteit kry net ‘n gemiddeld van 42% per jaar in van wat die werklike inkomste uit dienstegelde moet wees. Die blaam vir die Eskom-swaard van kragdonkerte en gevolglik dan ook watertekorte, sou verpligte beurtkrag wel deur Eskom ingestel word, word vierkantig voor die deur van wanbetalers geplaas.
Wat geword het van probleme met gebrugde meters en onwettig kragverkope, of wat al gedoen is om agterstallige betalings in te vorder, is onseker.
‘n Publieke protesvergadering oor die Eskom-krisis en ander diensleweringskwessies word more Donderdag 23 Augustus om 18: 00 in die skoolsaal van Parys Hoërskool gehou.
* Die DA het in sy reaksie gesê dit is hoogtyd dat die burgemeester, me. Joey Mochela en munisipale bestuurder, mnr. Bruce Kannemeyer, aan inwoners kom verduidelik oor die Eskom-krisis en watter oplossings hulle beplan.

Related Articles

Back to top button