HealthLifestyleNewsNews

’n Tweede kans op lewe

Die geskenk van lewe wat ’n anonieme stamselskenker vir hom gegee het, sal Gary Westwood (54), streekdirekteur van Epilepsie Suid-Afrika se Vrystaat/Noordwes-sentrum nooit vergeet. ’n Daadwerklike besluit van iemand wat hy nie ken nie, maar wat sy lewe ingrypend verander het.

Die geskenk van lewe wat ’n anonieme stamselskenker vir hom gegee het, sal Gary Westwood (54), streekdirekteur van Epilepsie Suid-Afrika se Vrystaat/Noordwes-sentrum nooit vergeet. ’n Daadwerklike besluit van iemand wat hy nie ken nie, maar wat sy lewe ingrypend verander het.

Gary se storie begin op 31 Desember 2007 toe hy gekonfronteer is in ’n dokter se spreekkamer met die verpletterende vermoede van kanker. Dit nadat hy dokter toe is oor die kneusmerke wat hy op sy vel opgemerk het en uitermate moegheid.

Die dokter het dadelik Gary se simptome herken as dié waarmee sy skoonpa geworstel het. ’n Baie seldsame vorm van bloedkanker bekend as Myelofibrosis (MF). Die stil vyand veroorsaak dat jou stamselle pleks van bloed vervaardig, weefselmerke in jou beenmurg vorm. ’n Toestand wat net 1 uit 500 000 mense raak. Die enigste genesing is ’n stamsel oorplanting – daarsonder sterf pasiënte, want medikasie kan slegs die siekte se vernietigende pad vertraag.

Juis daarom kan pasiënte se lewensverwagting nie geskat word nie, vertel Gary, omdat die siekte dikwels omskakel in leukemia. Na die eerste doktersbesoek het spesialiste die vermoede bevestig, maar terwyl daar gewoonlik ’n goeie kans is om ’n geskikte skenker in jou familie te kry, was dit nie in Gary se geval so nie.

As enkelouer met sy dogtertjie, Tegan toe maar 5 jaar oud, was Gary se hoop in daardie stadium maar skraal om haar te sien grootword. Met orale chemoterapie is sy simptome behandel maar die pyn het al erger geword en hy kon beswaarlik meer ’n vol dag werk. Die siekte het progressief vererger tussen 2008 en 2011.

En toe kom daar ’n antwoord – ’n 10/10 ooreenstemming met sy eie stamselle wat vroeg in 2011 gekry is van ’n Suid-Afrikaanse vrou wie haarself as stamselskenker geregistreer het. ’n Eenvoudige en maklike prosedure.

Vir Gary was dit na jare se wag en ’n baie swaar pad wat hy moes loop uiteindelik ’n gebedsantwoord, want vir meer kon hy nie vra as ’n 100% ooreenstemming met sy eie stamselle nie. Maar steeds was dit nie maklik nie. Met net ’n 60% kans op sukses met só ’n oorplanting was die onsekerheid groot, maar ’n kans wat hy moes waag, want daarsonder sou hy sterf. Daar is besluit dat die oorplanting die Desember gedoen sou word, maar teen Augustus 2011 was hy só siek dat dokters besluit het om die oorplanting dadelik te doen.

Vir die eerste vyf dae is sy eie stamselle doodgemaak deur baie intensiewe chemoterapie terwyl die skenker voorberei is vir die oorplanting – ’n klein prosedure met minimum ongemak byna soos om bloed te skenk. Stamseloorplanting is ’n “lewendige” skenking wat beteken dat die oorplanting gedoen word terwyl die skenker leef, anders as met baie ander orgaanoorplantings.

Ná 22 dae in isolasie en die oorplanting suksesvol gedoen, kon Gary huis toe gaan. Vir die volgende ses maande moes hy ’n spesiale dieet volg en selfs ’n masker dra om hom teen moontlike infeksie te beskerm vanweë sy lae immuniteit. In 2013 het hy ’n swaminfeksie opgedoen – een van die grootste oorsake van dood by mense wat ’n stamseloorplanting gehad het. Maar na drie weke in die hospitaal is hy huis toe. Daarna het ’n longinfeksie gevolg.

“Maar as jy vandag na my kyk gaan dit goed met my. Ek is steeds nie gesond nie, maar ek het ’n tweede kans op lewe gekry. Vandag vat ek dinge stadiger. Ek het geleer om die lewe op ’n ander manier te waardeer en tyd te maak vir wat werklik saakmaak.” Tegan is nou 13 – een van die grootste geskenke wat Gary gekry het danksy sy skenker, want agt wonderlike genade jare is vir pa en dogter gegee. Tye wat hul koester in saamwees. Met elke netbalwedstryd is hy daar, want vir solank het Tegan moes saamleef met ’n lysie noodnommers wat sy moes skakel as Gary sieker sou word by die huis.

Gary gebruik steeds daagliks medikasie vir die newe-effekte veroorsaak deur die intensiewe chemoterapie. Hy moet elke ses maande bloed trek en elke ses maande ’n onkoloog sien. Hy word nog moeg, maar sy siekte is danksy die oorplanting genees en kan hy nou weer voluit werk.

Sy personeel en raad by Epilepsie SA sowel as vriende het hom die afgelope vier jaar geweldig ondersteun met die pad wat hy moes loop. So was daar altyd iemand wat bereid was om na Tegan te kyk wanneer Gary hospitaal toe moes gaan. “Parys se gemeenskap is ongelooflik en ek kan net dankie sê.”

Agt van sy vriende is danksy Gary se siekbed nou op die skenkersregister nadat hulle hul vrywillig laat registreer het. Hoewel niemand ooit weet of hulle stamselle nodig sal wees om vir iemand soos Gary ’n tweede kans te gee nie, is hulle geregistreer vir die dag as daardie oproep om hulp sou kom. Om ’n skenker te word gaan kyk gerus na die webtuiste van The Sunflower Fund by www.sunflowerfund.org.za of skakel weeksdae tolvry 0800 12 10 82.

Vir Gary self was dit die afgelope vier jaar wat by sy lewe gevoeg is, geleentheid om terug te gee, deur die talle mense wat hy as maatskaplike werker in hierdie tyd kon help, danksy iemand wat bereid was om hom te help. En elke jaar op 24 Augustus skryf hy getrou om dankie te sê aan die anonieme skenker wat bereid was om hom ’n tweede kans te gee.

Related Articles

Back to top button