NewsNews

Van plaasbakkie-troutrek tot pret veldrit vir Koepel kameras

So sal die Vredefort Koepel, een van die mooiste en mees unieke plekke in die land eersdaags bekendgestel word met ‘n tradisionele “boere rally”

‘n Vier en vyftig kilometer roete oor rante en dale op ou ossewapaadjies wat kronkel oor die Vaalrivier se walle. en deur die doringbos-klowe waar Boere en Engelse mekaar 120 jaar terug raakgeloop het.
So sal die Vredefort Koepel, een van die mooiste en mees unieke plekke in die land eersdaags bekendgestel word met ‘n tradisionele “boere rally”. ’n Rally waar jy met enigiets van ’n motorfiets, ’n pypkar, ’n plaasbakkie, of selfs ’n SUV kan deelneem.
Dié pret veldrit word gehou juis om fondse in te samel om veiligheidskameras te kan opsit langs die paaie in die Vredefort Koepel.
Vanjaar is dit die Koepel Boerevereniging se eerste Koepel Veldrit wat op 1 September gehou word. Dit is nie ‘n wedren nie, maar eerder ‘n pretrit deur die gebied, met verskeie stalletjies langs die roete, waar mense kan deelneem aan kompetisies om aan die einde van die dag ‘n kans te staan om pryse te wen. Die hele familie is welkom om deel te neem. Dit beloof om ‘n dag te wees wat hope pret en plesier vir oud en jonk gaan verskaf!
Die terrein waar alles gaan plaasvind is die stalle van Noble Equestrian Estates van Ben Swanepoel, 5km suidwes van Parys.
Hierdie pragtige fasiliteit sal die basis wees waarvandaan die veldrit vertrek, en weer terugkeer. Buiten vir die veldrit, is daar hope vermaak en dinge om te sien by die terrein self.
Daar gaan verskeie uitstallers wees, wat ‘n wye verskeidenheid van produkte en dienste gaan uitstal. Uitstallers wissel van landbougedrewe besighede tot korporatiewe instansies. Daar is verskeie kos- en koeldrankstalletjies, ‘n boeremark met tuisgemaakte produkte, ‘n kontantkroeg, verskeie aktiwiteite vir kinders, asook ‘n kleuterpark wat die bekende Monkeynastix program gaan aanbied.
In die saal gaan daar ‘n oggendprogram aangebied word van 09:00 tot 12:00 wat hoofsaaklik op die dames gerig word, terwyl die manne deelneem aan die veldrit.
Daar gaan oor ‘n wye reeks onderwerpe gepraat word met sprekers soos dr. Jan-Hendrik Lamprecht (Plastiese chirurgie in die 21ste eeu), Sandra Taljaard (Vyf tale van die liefde en jou klerekas), en nog vele meer.
Op die verhoog in die arena gaan verskeie kunstenaars hul talente kom wys. Onder hulle is die dinamiese WG Nel.
Ander hoogtepunte vir die dag sluit in ‘n plaasbakkie-toutrek. Kom kyk gerus watter bakkie stof in die ander se oë skop!
Almal is welkom om te kom saamkuier. Of jy wil deelneem aan die veldrit, jou tande slyp vir die plaasbakkie-toutrek, of net wil kom rondkyk en ‘n paar pannekoeke geniet, jy is welkom! Ingang by die hekke is R10 per persoon. Vir meer besonderhede oor die Veldrit gaan na die webblad www.koepelboere.co.za of skakel 079 874 1860.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button