NewsNews

Kragskok: Eskom nou moeg gewag

Is beurtkrag weer ons voorland?

Eskom se geduld raak op met Ngwathe se agterstallige skuld aan dié kragvoorsiener wat bly styg. Soveel so dat ‘n kennisgewing reeds aan die Ngwathe munisipaliteit gestuur is. Die munisipaliteit bedien Parys, Vredefort, Heilbron, Edenville en Koppies.

Eskom wou hom egter  nie uitlaat oor die besonderhede van die kennisgewing nie.

Ngwathe self het egter Donderdag ‘n pamflet laat invoeg in die Parys Gazette waarin inwoners en besighede wat agterstallige diensterekeninge by die munisipaliteit het, kennis gegee word dat sou agterstallige skulde van meer as 120 dae nie betaal word nie, hul dienslewering op 24 Augustus opgeskort sal word, totdat betaling ontvang is, of reëlings gemaak is vir afbetaling.

In dieselfde pamflet word gesê dat elke munisipaliteit die veantwoordelikheid het om volgens die konstitusie basiese dienste aan ‘n gemeenskap te lewer wat moontlik gemaak word deur die gemeenskap se maandelikse betaling vir munisipale dienste soos water, riool en vullisverwydering.

Maar dan kom die vuishou – as gevolg van wanbetaling vir munisipale dienste, deur sommige belastingbetalers en besighede – kan Ngwathe nie sy afbetaalplan aan Eskom vir sy agterstallige Eskom-skuld nakom nie. Nog erger – die munisipaliteit kry net ‘n gemiddeld van 42% per jaar in van wat die werklike inkomste uit dienstegelde moet wees.

Die blaam vir die Eskom-swaard van kragdonkerte en gevolglik ook watertekorte, sou verpligte beurtkrag wel vanaf September soos die pamflet lees, deur Eskom ingestel word, dus vierkantig voor die deur van wanbetalers van Parys, Vredefort, Koppies, Edenville en Heilbron.

Wat geword het van die vele gebrugde meters en onwettig kragverkope, of wat al gedoen is  om agterstallige betalings in te vorder, is so duister soos wat die pad vorentoe vir Ngwathe is.

n Publiek protesvergadering oor die Eskom-krisis en ander diensleweringskwessies sal nou Donderdag 23 Augustus om 18: 00 in die skoolsaal van Parys Hoërskool gehou word.
Vrae wat aan die munisipale bestuurder en burgemeester gevra sal word, sluit in:
* waarom word niemand vervolg oor onwettige kragdiefstal nie?
* waarom gaan onwettige verkope van kragkoepons ongestraf voort?
* waarom word gebrugde meters nie ontbrug of vervang nie?
* waarom kry talle verbruikers geen rekenings nie, of absurde en verkeerde skattings?
* waarom is honderde rekenings meer as ‘n jaar steeds in dispuut?
Ngwathe se Eskom-skuld is reeds meer as ‘n miljard.

En daar is nie geld vir dienslewering nie: dooie straatligte, slaggate, waternood, toenemende rommel wat die toerisme-bedryf knou.
Kom gesels saam. Laat u stem hoor.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button