Vissterftes in die Vaalrivier is bewys van die erge besoedeling wat dié waterstelsel se totale ekosisteem nou bedreig, terwyl ʼn oënskynlik ongeërgde regering ontken dat daar ’n wesenlike lewensbedreigende probleem vir mens en dier bestaan wat van dié water afhanklik is.
So sê die Vryheidsfront Plus, wat meen dat hoewel die besoedeling van die stelsel goed gedokumenteer is, die nasionale departement van water en sanitasie die probleem verdoesel deur te beweer die vissterftes die gevolg is van ‘n daling in temperatuur en tekort aan suurstof in die water.
Die party sê die waarheid is dat die besoedeling van die Vaalrivier en ander waterbronne in die land deel is van die onbevoegdheid, wanbestuur en korrupsie wat munisipaliteite landwyd in duie laat stort.
Die VF Plus stel voor dat die enigste oplossing vir Suid-Afrika se rioolkrisis, die privatisering is van rioolaanlegte.




