NewsNews

Vir dood langs die pad agtergelaat

Die verhale wat jy hier hoor ruk aan jou hart.

Parys – Die telefoon lui onophoudelik. Probleem diere, rondloper diere, administratiewe take, mense wat diere wil aanneem, maar ook hulle wat uit nood by die DBV om hulp kom aanklop.
’n Jack Russeltjie wat oornag begin het om sy stert te byt, aggressief van pyn. In ’n desperate poging om hulp te kry staan die diertjie se eienaar met haar in sy arms voor die DBV-hek.
Dit is Maandagoggend in die Parys DBV-kantoor, maar dit is hoe dit menige dag hier gaan. ’n Kantoor wat bedryf moet word, terwyl die hande min en die werk baie is om te kyk na diere wat soos kinders word vir hulle wat na hulle moet omsien. Hulle wat moet help, ten spyte van baie beperkte hulpbronne met geen regeringsbefondsing nie. Slegs die skenkings wat ontvang word van mense met ’n hart vir diere.
Sedert middel Junie is Mike Cornish aangestel as leerling inspekteur vir die Parys DBV, bygestaan deur Charles Roberts, die veldbeampte in opleiding wat ook bystanddiens vir die DBV na-ure en oor naweke doen. Charles is al vir meer as ’n  jaar as vrywilliger by die DBV betrokke.
Mike  is naas sy take as inspekteur, ook verantwoordelik is vir die hokke.
Die verhale wat jy hier hoor ruk aan jou hart.
Soos die geseëlde kartondoos met vyf pragtige baba hondjies wat saam met hul ma eenvoudig Vrydag langs die R59 afgelaai is.

Die tefie wat saam met haar kleintjies langs die R59 afgelaai is.
Was dit nie vir ’n motoris wat dit vreemd gevind het dat die hond langs die pad bly terugdraai het na die kartondoos en gaan ondersoek instel het nie, het hierdie ma en haar kleintjies waarskynlik nie oorleef nie.
Die motoris het dadelik met die hondjies en hul ma na die Parys DBV gegaan waar nou gehoop word dat liefdevolle huise vir hierdie pragtige honde gekry sal word. Mike vertel dat daar selfs op die oomblik 14 varke op die DBV-perseel is wat gekonfiskeer moes word.
Hoewel daar alles gedoen word om mishandelde en verwaarloosde diere te help, en rondloperhonde van die straat af te kry, is dit nie altyd moontlik om oral te help nie weens die min hande en beperkte fondse.
Juis daarom is dit nodig dat die publiek ook waar moontlik sal help, nie net met skenkings en dalk ’n uur of twee se vrywillige diens nie, maar ook om self rondloperdiere na die DBV perseel te neem waar moontlik.
Talle skoolgroepe besoek gereeld die DBV vir opvoedkundige uitstappies en kan besoeke met die DBV-kantoor gereël word by (056) 811 3671.

Die graad 6 leerlinge van die Chris van Niekerk skool in Vredefort wat onlangs die DBV besoek het.
Die DBV-kantoor is Maandae tot Vrydae van 08:00 tot 16:00 oop, met die uitsondering van Woensdae wanneer die kantoor om 14:00 sluit. Saterdae kan die DBV van 08:00 tot 12:00 besoek word. Die noodnommer om te skakel vir die DBV is 072 8944 061.
Dankie vir die talle vrywilligers wat reeds uitreik na die DBV. Hieronder tel ook heelwat kinders wat gereeld kom help hokke skoonmaak en met die diere stap vir oefening, sê die personeel van die DBV.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button