BlogsOpinions

VERKNOG(TER)

Liewe Persoon,

 

So besluit ek om ‘n daadwerklike poging aan te wend om ligter te leef (lees: my huis lyk soos ‘n museum: alles blyk op uitstalling te wees). Die eerste stap was natuurlik om ‘n vertrek in die huis te kies en te begin gooi: weggooi, rondgooi, uitgooi en ook toe amperse (tou)opgooi … Jy sien dié aksie om ligter te leef is ‘n baie swaar taak. Vir my, ‘n haas onmoontlike taak.

Jy weet reeds dat ek ‘n propperse klotterklaas is, maar wat jy dalk nog nie weet nie (maar vir jare al vermoed) is dat ek ook ‘n verknogter is. En ja, ek weet daar bestaan nie so ‘n woord nie. Maar daar moet. Ek is verknog aan amper alles behalwe ‘n leë toiletrol en botterbone. So, dan is ek mos ‘n verknogter; iets soos ‘n versamelaar op steroids.

In ‘n poging om my aan te help, laat weet Ma dat ek dalk met my (kostuum)juwele moet begin. Ek het mos ‘n manie oor blink klippies en bonkige houtkrale, soveel so dat dit regdeur my huis hang.  Trues bob. Daar hangs selfs ‘n string krale in my kombuis.  Maar dit daar gelaat. Met groot moeite dra ek elke hangertjie en string krale kamer toe, om met die groot wegmaak aksie te begin. En net daar, op die kooi, tref ‘n verskriklike hartseer my. Ek sê jou, ek grens vir die beker. Hoekom?

Jy sien, al is die klatergoud al besig om plek-plek sy nerwe te wys, is elke liewe stringetjie – selfs die een met die seeskulp van ons gesinsvakansie in graad 5 (!) vir my ‘n hartsbesitting. Hoe op dees aarde kan ek nou daarvan ontslae wil raak? Ek bel vir Ma. Sy reken ek moet sterk wees en my besluit grond op hoe gereeld ek dié (twyfelagtige) stringetjies dra. Dit klink na ‘n plan.

Maar nee.

Ek is seker Ma verstaan nie.

Ek los vir eers die stringetjies en die trane. Ek is letterlik omring deur juwele, en kan net ver genoeg strek om my nuwe tydskrif raak te vat. En asof die heelal my ‘n stootjie in die regte rigting wil gee, sien ek ‘n artikel waar Nataniël vertel van lig-leef. Wow! En raai bietjie wat sê hy? Hy reken as mens so ver kan kom om van hartsgoed ontslae te raak, moet jy altyd in ag neem dat ander mense (lees: ontvangers) genoeg moeilikheid en trauma van hulle eie het en NIE noodwendig joune by jou wil oorneem nie.  Ek bel dadelik vir Ma met die goeie nuus.

Sy is nie beindruk nie.

Jy sien. Die eens silver hangertjie met die uil is die laaste stukkie blink wat Pa vir my uitgekies het. Die riempie met die klippie-kruis het ons nog by die Bloemfontein-skou gekoop. Die string wit krale was oorle’ Ouma Jannie sin, terwyl die borsspeld met die missing zirconia aan my pa se oorlede suster, Rien, behoort het (die feit dat ek haar nooit geken het nie, ter syde). En hoe kan ek die (nou pikswart aangeslaande) pewter hangertjie wegmaak wat ek vir my voorstelling in die kerk gedra het? Nee. Ma verstaan nie.

Ek sal maar net nie nog juwele koop nie. ‘n Soort van ‘n sabbatical vat van versamel.

Gister loop ek en die Juffrou in die mall. Daar is letterlik morge uitverkopings. Ek het probeer, maar soos die Groot Boek sê: …die gees is gewillig, maar die gees is swak.

Die nuwe krale hang vir eers in my hangkas. Net tot na Ma se kuiertjie Saterdag.

‘n Verknogter, sê ek jou.

Sorry Ma.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button