LetterOpinions

Is dit nou maar die toekoms vir Potch?

Bekommerde inwoner skryf:

Bekommerde inwoner skryf:

As ‘n jarelange inwoner van Potchefstroom is ek nuuskierig om te weet wanneer die munisipaliteit beplan om die dorp skoon te maak na al die onlangse opgrawings…

Dit lyk of die werkers bloot aangesê word om slote te grawe, te doen wat hulle moet doen (kabels lê of wat ookal), en dit dan net met grond toe te gooi. So ry ons dag in en dag uit oor die toegegooide slote en uiteindelik ontaard dit ook maar in ‘n mini-donga waardeur ons aanmekaar moet ry. Wie betaal dan vir die skade aan ons voertuie? Oral op die sypaadjies staan bakstene van plaveisel wat gelig is en nooit teruggepak is nie.

Die nuwe verkeerslig in Paryslaan is al vir maande slegs ‘n stopstraat, die verkeersbane daar is chaos – is daar nou twee of is daar nou drie?! Ek sien die los klippe is darem nou na maande opgevee. Ek verstaan net nie hoekom dit so lank moet vat om een plek klaar te maak voor hulle na die volgende een aanbeweeg nie.

Dit bring my dan ook by die munisipaliteit se nalatigheid om op te ruim waar hulle gewerk het. Na daar op ons sypaadjie oopgekap is moes ons vir twee weke na die sloot staar, waarna dit toegegooi is en die rooi en wit lint net so op ons gras gelos is, saam met die werkers se vullis en leë koeldrankbottels. So kom ons toe ook agter een van ons besproeiingspype is in die proses stukkend gekap. Na drie weke van rapportering aan verskeie persone by die munisipaliteit is die pyp bloot toegegrawe en die water stroom steeds daaruit. Lyk my daar is ook niemand aangestel om hul telefone te antwoord nie en die outomatiese e-pos respons is die enigste antwoord wat ek nog op my navraag gekry het.

Is dit nou maar die toekoms vir Potchefstroom, mnr. Khumalo?
Ek wonder…

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button