Entertainment

Dis winterkonsert dié naweek in Vredefort

Skakel Erna Rademan by 082 565 1085 vir kaartjies.

Vredefort – Vredefort hou dié naweek winterkonsert soos min. “Versnit” vind plaas op 5 Augustus in die NG Kerk Vredefort, en sluit in die kunstenaars, Carli D’Alebout en Edvard Erdal van Noorweë op viool, die Noordwes-kinderkoor, die sopraan Marguerite van Wyk; Mangaung Strings, Anthony Duffin op trompet en Erna Rademan op die orrel.


Erna het in die Noord-Vrystaat bekendheid verwerf as kampvegter vir goeie musiek. Benewens die feit dat sy die afgelope 32 jaar orrelis is by die plaaslike gemeente, bied sy gereeld konserte aan saam met Marli Krüger.
Die twee het die Deo Gloria koor in die vroeë 1990’s op die been gebring. Deo Gloria bied elke tweede jaar ‘n Kersfeeskonsert in Vredefort aan.
Vra jy waarom Vredefort, antwoord Erna dat sy ’n  Vredeforter in murg en been is en graag goeie musiek vir haar dorpsgenote aanbied.
Die feit dat die kerk oor ‘n uitstekende konsertruimte en wonderlike orrel en vleuelklavier beskik, maak dit ‘n natuurlike keuse.


Erna was 13 jaar lank musiekonderwyser by  Chris van Niekerk skool, en nadat sy vir 10 jaar in die Departement van Onderwys se distrikskantoor gewerk het, was sy vir die afgelope drie jaar skoolhoof van Chris van Niekerk, totdat sy aan die einde van Maart met vroeë aftrede gegaan het.
“My aftree-droom is om Vredefort wyd en syd bekend te laat word as ‘n dorpie waar daar gereeld uitstekende en diverse konserte aangebied word. Die dorp se ligging is ideaal. Selfs Pretoria is net 160 km ver,” sê Erna.
“Tydens my drie jaar as skoolhoof, was ek so gelukkig om in samewerking met Peter Guy, van Bochabela Strings faam, dié strykersprogram na die skool te bring. Nou, skaars drie jaar later, is drie Vredefort seuns opgeneem in die Nasionale Jeugorkes. Een van hulle was reeds vir twee maande op uitnodiging in Europa.”
‘n Uitgesoekte groep van hierdie kinders, bekend as die Manguang Strings, wat altyd harte verower waar hulle ook al optree, gaan by die konsert optree.


“‘n Mens bou ‘n groot netwerk van kontakte op in 32 jaar en kunstenaars het mekaar nodig. Daarom vind ek dit baie moeilik om net vier kunstenaars per konsert te nooi, want almal wil graag optree! Ek wens almal in die gehoor kon die vreugde ervaar van saam musiekmaak – dit maak al die duisende ure van alleen oefen die moeite werd,” sê Erna.
“Daardie magiese oomblikke waar alles perfek harmonieer en saamklink – ‘n mens raak verslaaf daaraan.”


Anthony Duffin het grootgeword in Port Elizabeth. Hy is aan die trompet bekendgestel in sy graad agt-jaar. Drie jaar later raak hy betrokke by ’n  plaaslike Brass Ensemble en die Oos-Kaapse Simfonie-orkes. Toe hy sy militêre diens in 1985 moes gaan doen, is hy ingesluit in die UCT Wind Band en die Kaapstadse Simfonie-orkes. Die lys van vooraanstaande kunstenaars en ensembles waarmee hy gewerk het, is lank.
Hy bespeel ’n 54 jaar oue handgemaakte Vincent Bach Stradivarius trompet wat vandag in goeie musiekwinkels regoor die wêreld gekoop kan word. Anthony is ’n  gesoute en veelsydige musikant. Hy kan in bykans enige genre en musiekstyl oortuigend speel.  “Final Countdown” sal onder meer Sondag op trompet en orrel gehoor kan word.  Anthony sal ook die pragtige “Il SIlenzio” op ‘n doodgewone plastiekgieter speel! Die konsert begin stiptelik om 11:30.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button