20 jaar geledeEntertainmentNews

Potchefstroom kry kinderbeskermingseenheid

Op die voorblad van die Herald van 9 Junie 1995 word aangekondig dat die stad sy eie kinderbeskermingseenheid van die polisie kry.

Op die voorblad van die Herald van 9 Junie 1995 word aangekondig dat die stad sy eie kinderbeskermingseenheid van die polisie kry.

In die berig word vermeld dat daar in die voorafgaande jaar (1994), 206 sake aangemeld is waar kinders van Potchefstroom slagoffers van molestering was. Maatskaplike werkers het ook in die berig genoem dat daar waarskynlik baie meer gevalle van sulke molestering plaasvind, maar wat nie aangemeld word nie.

Skaars drie dae nadat die eenheid sy deure oopgemaak het, het hulle reeds sewe klagtes ontvang. Die hooffoto op die voorblad is van drie pragtige meisies wat as wenners aangewys is in die Mej. Skoonheidsterapie-kompetisie van die Tina Scholtz Skoonheidsakademie, Die wenner was Anele Botha en die twee prinsesse Hannelie Raath en Costantinou Maria.

Daar word ook berig dat 79,4 persent mense in die stad vir die eerste munisipale verkiesing in die nuwe Suid-Afrika sou kon stem. Vanjaar se Comrades is pas verby, maar in 1995 het die Herald ’n spesiale berig oor die Comrades gehad! ’n Potchefstroomse egpaar, Koos en Anette Degenaar, is in Durban getroud toe Koos aan daardie jaar se Comrades gaan deelneem het. Al wie by die troue was, was Koos se broer, sy skoonsus en hul dogtertjies. “Dit was absoluut ongelooflik,” is al wat Anette kon uitkry toe die Herald haar kommentaar gevra het.

In nog ’n berig word gesê dat verskeie kafees en ander tydskrifhandelaars gehoor gegee het aan ’n versoek van ’n groep studente dat hulle nie tydskrifte verkoop wat pornografiese materiaal bevat nie. Nadat daar in ’n vorige uitgawe berig is dat ’n egpaar by die vullisterrein buite die stad aangeval is, vra ’n inwoner wat geword het van die voorstel vir ’n mini-stortingsterrein. Nou ja, om ’n lang storie kort te maak bestaan daar nou so ’n stortingsterrein wat met groot vrug gebruik word. Die hoofvullisterrein ’n ent buite die stad is darem ook ’n veiliger plek as wat dit destyds was!

Op die sportblaaie word onder meer berig dat die Potchefstroom Aksie Korfbalklub die Wes-Transvaalliga gewen het. Die eerste keer in 21 jaar wat dit gebeur het. In die volgende uitgawe, dié van 13 Junie 1995 word onder meer berig dat die wiele om ’n behoorlike perseel te kry waar straatkinders geakkommodeer kan word baie stadig draai, maar dat voedselvoorsiening darem al aan die gang was.

Goeie nuus vir die stad was ook dat daar besluit was om die hoofkwartier van die polisie in Noordwes in Potchefstroom te hou, nadat daar vrese was dat dit na Mmabatho sou skuif.

Related Articles

Back to top button