NewsNews

Toekoms inspirasie met styl vir jong ‘diamante’

Hulle is die diamante van die toekoms!

Hulle is die diamante van die toekoms! Jong meisies wat eersdaags hul volwaardige plek in die gemeenskap sal inneem, en wat verlede week ’n  bederfdag kon geniet.
Die Diamonds of the Future spog geleentheid is verlede week by Stonehenge met die gebruiklike styl aangebied, maar dié keer met ’n besondere sprankel – ’n “Diamond” van 2015 wat weer ’n  draai kom maak het as spreker op die podium. Dit was vanjaar die sesde jaar dat dié unieke geleentheid vir skoolmeisies van Parys gehou is.
Vanjaar se tema was, “It’s all about the bass”, met Ercilia Ubisse (ekonomiese ontwikkelingskonsultant), Lesego Setou (jeug motiveringspreker), Cathy Foster (finansiële bestuurder), Karin Terblanche (plaaslike kunstenaar), Cecilia Nkosi (senior bestuurder by AMT Placement Services) en Dikeledi Pule (ere “Diamond”) as sprekers.


Die inisiatief vir die geleentheid het sy ontstaan gehad uit die behoefte van plaaslike skole om jong meisies te inspireer en voor te berei vir ’n suksesvolle toekoms.
Die dag is volgepak met inligting wat wissel van persoonlike versorging tot loopbaaninspirasie en selfs ’n skoot gesonde seksvoorligting.
Die program is só gestruktureer om die meisies se selfvertroue te bou, hul aan te moedig om hul eie identiteit te ontwikkel en hul drome na te streef.
Daar is gefokus op elke aspek van ’n  individu se basis wat insluit die gemeenskap,   ouerhuis, liggaamsaanvaarding, en wie en waarmee jy jou moet assosieer.
Agt skole van Parys en Vredefort omgewing is betrek wat elk nege dogters en ’n  onderwyser kon stuur om die dag by te woon. Die skole wat vanjaar betrek is, was Weiveld Agricultural & Hotel School, Hoërskool Parys, Boitlamo Secondary School, Barnard Molokoane Comprehensive School, Yakhi-sizwe Secondary School, Boiphihlelo High School, Phehellang Secondary School en SS Paki Secondary School.


Die organiseerders wat, soos die sprekers vrywillig aan die dag deelgeneem het, was Charmaine Dippenaar (River Spa), Lizette Visser (QA Coring), Leida Schuman (ekonomiese ontwikkelingskonsultant) en Karin Terblanche (kunstenaar en vrou van vele talente).
In haar praatjie het Ercilia Ubisse die jongmeisies aangemoedig om hul eie hartklop te hoor te midde van die geraas van die lewe. Daardie “stemmetjie” in jou hart wat jou aanmoedig om die regte pad te loop.
Met die lewe wat soveel uitdagings maar ook seën daagliks inhou, is ons as mense egter dikwels geneig om in ’n  gemaksone te beland wat ons weerhou van sukses en die strewe om vorentoe  te beweeg. Lesego Setou se raad aan die meisies was om nie verskonings te soek en omstandighede, mense of ander partye te blameer vir jou mislukkings of gebrek aan sukses nie. “Gebruik jou energie om jou eie diamantmyn te skep waar jy dit kan vind wat ’n golf van uitnemendheid om jou sal skep wat jou bo jou omstandighede kan laat uitstyg.”
Onderrig bly egter die basis waarop jy jou toekoms bou, het Cecilia Nkosi gesê wat ook die suksesstories van Moipone Matlhwane en Zazi Nyandeni kom deel het. Vir beide van hulle was visie en die wil om ’n sukses te maak van hul loopbaankeuses, tesame met baie harde werk, die rede vir hul sukses.
Keri Steyn op haar beurt wenke gedeel vir aanlyn beursgeleenthede, internskappe, en opleidingsgeleenthede wat gekry kan word deur www.gov.za/issues/government-and-opportunities-youth, asook www.careerhelp.org.za/funding en careeersportal.co.za


Sonder om te bloos het Cathy Foster ná ’n  heerlike middagete waarhede gedeel waaroor dikwels geswyg word wanneer dit kom by seksuele voorligting. Haar boodskap was duidelik – jy het ’n  keuse met wie jy jou liggaam deel en dat jy jouself na waarde moet ag. “Wees daardie meisie wat gerespekteer word, nie goedkoop is nie, en ’n langtermyn plan en visie vir jou lewe het,” het sy gesê.
Die waarde van hierdie besondere dag het gespreek uit die boodskap van Dikeledi Pule wat nadat sy in 2015 een van die gaste by die Diamonds of the Future geleentheid was,  begin het met haar B.Ed-graad studie,  en tans skoolhou by Weiveld Agricultural & Hotel School.
Luister aan die dag se verrigtinge is gegee deur Parys se eie talenvolle Pinkie Moseme,  wat saam met Mango Groove  toer. ’n Ware superster in eie reg, wat ook haar getuienis kon gee van hoe sy kon uitstyg bo haar omstandighede om ’n  sukses te maak.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button