NewsNews

Kyk hoe lyk die Vaal!

Dosyne visse vrek.

Nog nooit is die Vaalrivier só gesien nie! Dosyne moddervisse en geelvisse vrek, en talle foto’s en videomateriaal is sedert die naweek na Gazette se kantoor gestuur van die visvrektes, en skuim wat duidelik op die water gesien kan word.


Nadat Gazette Maandag by die nasionale kantoor van Waterwese die visvrektes gerapporteer en vir kommentaar gevra het, het verteenwoordigers van Departement Waterwese Dinsdag Parys besoek waar monsters van die rivierwater op verskeie punte geneem is.
Die departement se nasionale woordvoerder, Sputnik Ratau, het Maandagmiddag bevestig dat beide die Vrystaatse en Gautengse streekskantore, en die watergehalte moniteringspan van die visvrektes in kennis gestel is.


Hy het toe aangedui dat inspeksies gedoen sal word en monsters van die rivierwater geneem gaan word. Sodra die uitslae bekend is, sal in gesprek getree word met beide die Ngwathe- en Emfuleni-munisipaliteite, sou daar ongewenste uitvloeisel in die monsters gevind word wat ’n impak kan hê op die water en omgewing.
Hy het dit duidelik gestel dat die resultate van die inspeksie en toetse die aksiestappe van die departement sal bepaal.
Intussen is lugfoto’s en videomateriaal ook Maandag geneem wat getoon het dat die rioolpompstasies by Tokoloho en Mbeki, klaarblyklik toe steeds nie behoorlik gefunksioneer het nie, en oorloop. Verskeie inwoners het ook hul kommer uitgespreek oor mangate, veral ook by die Sandgat in Rotarylaan wat gereeld oorloop.


Gazette het verlede week al berig dat die Mbeki-rioolpompstasie vir minstens drie weke oorgeloop het.
Gevaarligte het reeds twee weke gelede al begin flikker toe al meer berigte ook ontvang is van rioolbesoedeling van die Vaalrivier, as gevolg van die Emfuleni-rioolkrisis.

Foto’s: Johan Smit.

Volgens Maureen Stewart van Save the Vaal, het 150 megaliter se rou, onbehandelde riool gevolglik daagliks in die Rietspruit en Vaalrivier ingeloop. Dit het gevolg nadat die gemeenskap van Sebokeng verhinder het dat werkers toegang kry tot die Sebo-keng rioolsuiweringsaanleg weens ’n dispuut oor werkgeleenthede vir konstruksiewerkers by die aanleg.
In ’n brief het Stewart geskryf dat die riool stroomaf na Parys vloei waar mense suiwer van die rivier se water afhanklik is vir drinkwater.
Samesprekings is ondertussen gevoer met die Gautengse premier se spesiale adviseur en lede van die span wat aangestel is om ’n omkeer-strategie vir die Emfuleni-munisipaliteit in Vanderbijlpark te kry.
Stewart het na die vergadering gesê samesprekings was positief en daar word gewag op aksie. Vandeesweek het Stewart egter bevestig dat die situasie steeds nie verbeter het nie, en nog berigte van rioolstorting in Vereeniging Maandagoggend ontvang is.
Sy het gesê dat gewag sal moet word vir die uitslae van die monsters om met sekerheid te kan sê wat die oorsaak van die visvrektes is, maar dat die kumulatiewe impak van die riool wat in die rivier ingeloop het, na alle waarskynlikheid stroomaf ervaar kan word.


Verskeie hengelaars in Parys met wie gepraat is, het vertel van die dooie visse wat gesien is, terwyl baie dooie visse ook by die keerwal by die 17de putjie op Gholfeiland gesien is. Die skuim word die ergste waargeneem waar stroomversnellings is.
Terwyl inwoners van Parys die visvrektes sedert die naweek aan Gazette gerapporteer het, sê Henning Vosloo dat visvrektes reeds sedert verlede Woensdag in die Vaalrivier langs die Schoemansdrift-pad sowat 22km buite Parys in die Koepel gesien word.

  • Dankie aan Johan Smit en Henning Vosloo, asook ander lesers wat foto’s beskikbaar gestel het.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button