NewsNews

Visvrektes: Monsters van Vaal se water vandag geneem

Dosyne moddervisse en geelvisse vrek.

Nadat Gazette Maandag by die nasionale kantoor van Waterwese die talle visvrektes in die Vaalrivier by Parys gerapporteer en vir kommentaar gevra het, het verteenwoordigers van Departement Waterwese vandag, Dinsdag 24 Julie, Parys besoek om inspeksie te doen en monsters van die rivierwater op verskeie punte te neem.

Nog nooit is die Vaalrivier só gesien nie! Dosyne moddervisse en geelvisse vrek en talle foto’s en videomateriaal word sedert die naweek steeds na Gazette se kantoor gestuur van die skuim wat duidelik op die water gesien kan word van net onder die Barrage-sluise tot sover as 22km buite Parys in die Vredefort Koepel wêrelderfenisgebied.
Die departement se nasionale woordvoerder, Sputnik Ratau, het Maandagmiddag laat aan Gazette bevestig dat beide die Vrystaatse en Gautengse streekskantore, en die watergehalte moniteringspan van die visvrektes in kennis gestel is. Hy het aangedui dat die inspeksies gedoen sal word en monsters van die rivierwater geneem gaan word waarna in gesprek getree sal word met beide die Ngwathe en Emfuleni munisipaliteite, sodra toetsuitslae bekend is, en daar ongewenste uitvloeisel in die watermonsters gevind sou word wat ’n impak kan hê op die water en omgewing.
Hy het dit duidelik gestel dat die resultate van die inspeksie en toetse die aksiestappe van die departement sal bepaal. Hy het ook onderneem om Gazette van die uitslae en aksiestappe op hoogte te hou.

Gazette was sedert Maandag deurentyd in verbinding met die departement en is die foto’s wat van lesers ontvang is ook aan die departement voorsien vir doeleindes van die ondersoek.

(Lees meer in hierdie week se Gazette).

Hierdie is slegs enkele van die foto’s wat ontvang is.  Spesiale dank aan Henning Vosloo, Johan Smit, Bertie du Randt en Koos Botha.

 

Related Articles

Back to top button