Entertainment

Versnit in Vredefort

Noord-Vrystaters kan uitsien na nog ’n pragtige konsert

Noord-Vrystaters kan uitsien na nog ’n pragtige konsert onder die titel, “Versnit Winter”, op 5 Augustus in die NG Kerk Vredefort.
Kunstenaars wat by die konsert gaan optree, is Carli D’Alebout, die Noordwes-kinderkoor, die sopraan, Marguerite van Wyk, Mangaung Strings, en Anthony Duffin op trompet, begelei deur Erna Rademan op die orrel.
Erna het die kunstenaars gevra om vir hierdie konsert ligte musiek aan te bied.
Carli D’Alebout se ouers (Kallie en Carlien) is Vredeforters wat hulle later in Welkom gevestig het. Hulle het vroeër Helpmekaar Slaghuis op die dorp besit. Kallie boer steeds deeltyds op een van sy plase net buite Vredefort.
Carli het op 8-jarige ouderdom begin met vioollesse by Marie-Jean Kotze in Welkom. Daarna was sy vir ses jaar lank ‘n student van die befaamde Suid-Afrikaanse konsertviolis, Zanta Hofmeyr.
Op die oomblik is sy ‘n student van Stephan Barratt Due by die Barratt Due Musiek Instituut in Oslo, Noorweë.
Carli het ook pas haar graad in “Violin Performance” gekry, en gaan die volgende twee jaar aan haar Meestersgraad-studie bestee onder leiding van Stephan Barratt Due van Oslo, en Ulf Wallin van Berlyn.
As kind het sy in 2008 die Musicon kompetisie in Bloemfontein gewen, en verskeie kere deurgedring na die finale rondte van die Philip Moore musiekkompetisie. Sy het in 2011 die ATKV-prys gewen vir beste Hoërskool musiekleerder.
Carli was al konsertmeester van die Nasjonale Jeugorkes, Simfonia Juventi, die Noorwes Jeugorkes, die PUK-orkes en die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees se Simfonie Orkes.
Sy het as solis opgetree saam met die Johannesburgse Philharmoniese orkes, die KwaZulu Natalse Philharmoniese orkes, die Randse Simfonie orkes en die Johannesburgse Simfonie orkes.
Dan was sy ook deel van die Porziano musiekfees in Assisi, Italië, onder leiding van Jan Repko (UK), asook die MusicAlp fees in Tignes, Frankryk, en die Voksenåssen musiekfees in Oslo.
Sy is ‘n gereelde speler in die Oslo Camerata, ‘n uitgesoekte ensamble bestaande uit studente en professionele musikante uit verskillende dele van Noorweë.
Carli is ook ‘n ywerige pianis en het in 2012 haar graad 8 Unisa klaviereksamen met lof geslaag.
Haar toekomsdroom is om haar eie musiekskool in Suid-Afrika oop te maak en al die kennis wat sy oorsee opgedoen het, terug te ploeg op eie bodem.
Skakel gerus vir Erna Rademan by 082 565 1085 vir meer inligting oor die konsert.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button