News

Dit is my erfenis van Madiba

My erfenis van Madiba

Die boodskap wat Mandela aan Smalman gegee het.

Izak Smalman skryf:

Die jaar of wat voor die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika het hoë eise aan die polisie gestel. Chris Hani is in April 1993 vermoor en ‘n burgeroorlog is naelskraap afgeweer. Politieke vergaderings en byeenkomste is oral in die land gehou.
Die AWB het dit ook nie maklik gemaak wanneer hulle gereeld die vryheid van ‘n dorp in die ou Wes-Transvaal en die Vrystaat ontvang het nie. Die polisie moes dan spook om AWB-lede op hulle perde en die omstanders, asook die omstanders onderling, uit mekaar se hare te hou. Mense het kosvoorrade opgegaar vir die Groot Dag wat toe nooit aangebreek het nie. ‘n Atmosfeer van antagonisme, wantroue en afwagting het in die land geheers.
Op 2 Desember 1993 is ek na Rustenburg waar mnr. Nelson Mandela die aand ‘n ANC byeenkoms sou toespreek. Ek was die waarnemende provinsiale polisiekommissaris van Wes-Transvaal.
Die vergadering moes plaasvind in ‘n groot tent wat vir die geleentheid op die sportkompleks van die dorp opgeslaan is. Polisiebeamptes is oor die dorp heen ontplooi en die tent is nagegaan deur ons bom-opruimingseenheid en snuffelhonde, waarna dit aan die sekuriteitsbeamptes van die ANC oorhandig is. Die polisie se operasionele sentrum is op die perseel van die Rustenburgse brandweer ingerig. Ons het daardie middag die finale oorsigvergadering gehou en was tevrede dat alles gereed was vir die verrigtinge. Net na 17:00 die betrokke dag is ek deur die organiseerders van die ANC-byeenkoms genader.

Hulle het met ‘n dilemma gesit, want mnr. Mandela se helikopter het reeds geland en die byeenkoms sou eers om 19:00 begin. Daar is gesoek na ‘n plek vir mnr. Mandela om die tyd te verwyl, want dit sou ‘n antiklimaks veroorsaak as die skare hom moes sien voor die bestemde tyd.

Ek noem toe aan die organiseerders dat hulle leier in die operasionele sentrum by die brandweer kon gaan wag, maar hulle was nie daarvoor te vinde nie. Een van my offisiere stel toe voor dat mnr. Mandela na die kroeg onder die paviljoen van die sportstadion geneem kon word en die organiseerders stem in nadat hulle mnr. Mandela geraadpleeg het. Ek en ‘n aantal manne is toe na die stadion waar ek mnr. Mandela ingewag het. Tot op daardie dag was ek bevooroordeeld teenoor Nelson Mandela en in my agterkop was hy ‘n terroris. Toe hy by my kom het hy sy hand uitgesteek en myne geskud, hy het dit ook met die ander polisiemanne gedoen en dadelik was almal van ons op ons gemak. Ons is die kroeg binne waar mnr. Mandela sy baadjie uitgetrek het en ons almal genooi het om te sit. Hy het begin gesels terwyl hy met ‘n sodawater en ek met ‘n Coke in die hand gesit het. Ek het later besef dat van die polisiemanne ietsie sterker by hulle koeldrank gevat het en die gees was gemoedelik. Selfs die lyfwagte van mnr. Mandela het geglimlag.
Die tyd het verbygesnel en dit was tyd dat ons gas vertrek. Ek het mnr. Mandela om sy handtekening gevra en hy het dadelik my vulpen en sakboekie geneem en begin skryf. Die volgende boodskap is in my boek geskryf : “Vir Brig Smalman, Komplimente en beste wense N Mandela 2.12.93.” Ek sluit die boodskap in sy oorspronklike vorm by my brief in. Mnr. Mandela het ons almal bedank vir sy “period of detention” in die kroeg, waarna hy na die tent begelei is.
Ons het daardie aand opgewonde gesels oor ons ontmoeting met hierdie nederige persoon met sy lang gestalte en glimlag. Sy populêre naam van “Madiba” was toe nog nie in die volksmond bekend nie.
Ek het mnr. Mandela later in my loopbaan op meer as een geleentheid weer ontmoet, onder andere tydens ‘n parlementsitting in Kaapstad. Hy het altyd die aand van 2 Desember 1993 in die kroeg by die sportstadion onthou. Ek was ook ‘n keer aan die ontvangkant van sy woede toe hy ons tydens ‘n bestuursvergadering oor die kole gehaal het oor die politieke moorde in die townships, veral in die Oos-Rand.
Die sakboekie het ek daarna slegs gebruik om notas in te maak vir wanneer ek vir ‘n onderhoud vir bevordering genooi is. Ek het geglo dis my gelukbringer (wat egter nie altyd die geval was nie). Die sakboek word steeds in my brandkluis toegesluit en my jongste dogter het belowe die boek sal nie eendag sy weg na die ashoop vind nie. Dit is my erfenis van Madiba.

Related Articles

Back to top button