NewsNews

Groot kommer oor gevreesde rioolbesoedeling in die Vaal

Wat dryf in die Vaal se water.

Daar is gister ernstig gewaarsku oor die gevolge wat gevreesde rioolbesoedeling van die Vaalrivier kan inhou, veral ook vir inwoners van die Vrystaatse dorp, Parys, wat sy drinkwater direk uit die Vaalrivier onttrek.

Verskeie inwoners het gister die skuimerigheid in die rivier opgemerk en foto’s en video’s hiervan na Gazette gestuur.

In ‘n skrywe van Maureen Stewart van Save the Vaal Environment, wat gister, 10 Julie uitgestuur is oor die Emfuleni-rioolkrisis, word gesê dat die gemeenskap van Sebokeng verhinder dat werkers toegang kry tot die Sebokeng Rioolsuiweringsaanleg as gevolg van ‘n dispuut oor werksgeleenthede vir konstruksiewerkers by die aanleg.

Volgens die skrywe vloei daar daagliks 150 megaliter se rou (onbehandelde) riool in die Rietspruit en Vaalrivier, en gebeur dit na bewering alreeds glo al ‘n maand lank. Daar word ook gesê dat dié riool dan stroomaf na Parys vloei waar mense suiwer van die rivier se water afhanklik is vir drinkwater.

Terwyl daar daagliks talle hengelaars langs die rivieroewer staan, wou baie weet waar dié skuim vandaan kom.

Stewart sê dat die Emfuleni Munisipaliteit gedeeltelik onder administrasie is van die Gautengse Wetgewer, maar dat nog Gauteng, nog die Departement van Water en Sanitasie (DWS), al enige aksie geneem het om die ernstige besoedeling aan te spreek.

Stewart sê beide die Gautengse Wetgewer en DWS dra reeds kennis van die situasie, en dat die krisis na die minister via epos en in ‘n telefoniese gesprek aan die departement se nasionale woordvoerder, Sputnic Ratau, deurgegee is.

Volgens Save hou die krisis ernstige gesondheidsgevare in soos cholera en Listeriosis, afgesien van die omgewingskade wat dit aanrig.

Oud DA raadslid Saal de Jager, het gister  mense op die We Care whatsapp-groep aangeraai om voorlopig kraanwater te kook voor dit gedrink word, totdat toetse gedoen is om seker te maak dat die bakteriële lading veilig is. Hy het ook gevra dat mense waar moontlik, tot sekerheid gekry is, eerder filterwater of gebottelde water sal gebruik.

Intussen is verneem dat departement gesondheid nog nie toetse op die rivierwater by Parys gedoen het nie, en kon departement waterwese se woordvoerder, Sputnic Ratua, nie telefonies bereik word vir kommentaar nie.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button