
Inwoners in die omgewing van Conroy- en Frolichstraat, wat reeds sedert 24:00 gisteraand (Maandag 9 Julie) sonder krag is, nadat koper gesteel is uit ‘n mini-substasie sal na verwagting, as alles goed gaan, dalk tussen 22:00 en 23:00 vanaand weer krag hê. Parte sal na 18:00 afgelewer word waarna waarskynlik meer dele sonder krag sal wees namate met die herstelwerk begin word.
Die diefstal van die koper uit mini-substasies in Parys kos die Ngwathe munisipaliteit alreeds derduisende. In net 2 weke het 4 mini-substasies reeds deurgeloop. Die skade is nagenoeg R400 000 per substasie buiten die koste aan arbeid.
Die mini-substasies word van bo af oopgebreek waarna die koper uitgehaal word. Ngwathe het in die verlede ook groot verliese gely as gevolg van die diefstal van oorhoofse elektriese kabels, ook vir koper.



