NewsNews

Nuwe boek herinner ons vandag nog aan die ongenaakbaarheid van dié oorlog

Nuwe boek herinner ons vandag nog aan die ongenaakbaarheid van dié oorlog

Pieter de Jager met die Wes-Transvaal boek.

Daar was die Anglo-Boereoorlog en dan was daar die Anglo-Boereoorlog soos wat dit in die Wes-Transvaal en deur die Wes-Transvalers geveg is. Dit word duidelik in Kraal Uitgewers se nuutste boek Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 deur die oud-Noordwester en historikus Pieter de Jager. Dié boek word vandeesweek by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein bekendgestel. Hierdie standaardwerk stel onder meer ondersoek in na die betrokkenheid van die Potchefstroomse burgers in die stryd wat gedurende die oorlog in die Wes-Transvaal gevoer is, die inname van Potchefstroom in Junie 1900 en die belangrike strategiese rol wat dié dorp gedurende die oorlog gespeel het.

Wes-Transvaal:

Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog is die sewende en laaste boek in Kraal Uitgewers se gewilde Erwe van ons vaad’re-reeks. Ander boeke in dié reeks sluit onder meer in Bannelinge in die vreemde (deur Elria Wessels), Onthou: Kronieke van vroue- en kinderlyding (deur Andries Raath en Elria Wessels) en Afrikanerrebellie, 1914-1915 (deur verskeie skrywers). Die wêreldbekende Vrystaatse fotograaf, Paul Alberts, het die reeks in 2005 tot stand gebring. Alberts se toewyding – ná sy dood voortgesit deur sy vrou Charmaine Alberts – en die bystand van prof. Andries Raath as reeksredakteur het verseker dat honderde voorheen ongepubliseerde foto’s oor die oorlog wat tussen 1899 en 1902 in die Boererepublieke gewoed het, in die reeks ingesluit is. Met die hulp van moderne tegnologie is ’n groot hoeveelheid foto’s gerestoureer en in die sewe publikasies van die Erwe-reeks ingesluit.
De Jager se militêre en historiese kennis, sowel as sy voorliefde vir die omgewing waar hy ’n groot deel van sy lewe deurgebring het, is gekombineer in Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog. Sy vorige boek Die Korannafonteiners: Stories oor Ottosdal en sy mense is in 2008 by Protea Boekhuis gepubliseer.

Volgens prof. André Wessels, senior professor in die Departement Geskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat, is Wes-Transvaal ’n “standaardwerk oor die Anglo-Boereoorlog se verloop in, en gevolge vir, die Wes-Transvaal … De Jager se navorsing is indringend en omvattend.”

’n Databasis met die besonderhede van nagenoeg 700 Wes-Transvaalse burgers wat tydens die oorlog omgekom het, sowel as dié van meer as 2 300 Wes-Transvalers wat deel was van die gebied se burgermag, sal binnekort op die uitgewer se webblad (www.kraaluitgewers.co.za) vrygestel word. “Dié name bied vandag nog aan ons ’n waardevolle skakel met die verlede en vertel die verhaal van rateltaai mense wat aan die Anglo-Boereoorlog deelgeneem het op die plek waar dit die felste geveg is – in die Wes-Transvaal. Die bekendstelling van Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902, sowel as die publikasie van hierdie omvattende naamlys, herinner ons vandag nog aan die ongenaakbaarheid van die oorlog en die bekende en minder bekende helde van die Wes-Transvaal. Mag ons hulle nooit vergeet nie,” sê Ilze Nieuwoudt, publikasiebestuurder van Kraal Uitgewers.

Die boek Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902.

Meer oor Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902
Wes-Transvaal:

Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, deur Pieter de Jager, is die sewende en laaste boek in Kraal Uitgewers se Die erwe van ons vaad’re-reeks (onder redaksie van A.W.G. Raath).
Dit bied ’n omvattende weergawe van prominente én minder bekende veldslae en skermutselings wat in die Wes-Transvaal afgespeel het sowel as persoonlike ervarings van dié gebied se krygers. Die ZAR se westelike Boeremag het krygers van Pretoria-Wes, Johannesburg-Wes, Krugersdorp en Rustenburg in die oostelike streek tot by Lichtenburg, Wolmaransstad en Bloemhof in die verre weste ingesluit, terwyl die Noord-Kaapse, Griekwaland- Wes- en Stellaland-Rebelle hulle ook hier by die oorlog aangesluit het.
Deur De Jager se werk word die leser so te sê ’n ooggetuie van die veldslae van 1899 en 1900, onder meer by Modderrivier, Magersfontein en Paardeberg, en word later meegesleur deur die vindingryke guerrillaoorlogvoering wat die res van die oorlog gekenmerk het. Die
beleërings van Mafeking en Kimberley, die dood van Danie Theron, die rol van hensoppersen joiners, opspraakwekkende teregstellings, planne vir die inval in die Kaapkolonie en die uiteindelike vredesonderhandelinge van 1902 is enkele van die sake wat in diepte in Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog ondersoek word.
Legendariese Boereleiers soos die sogenaamde Leeu van die Wes-Transvaal, generaal Koos de la Rey, generaals Jan Kemp, J.G. (Jan) Celliers, S.F. (Swart Sarel) du Toit en P.J. (Ou Hartjie) de Villiers, sowel as talle ander minder bekende persoonlikhede se betrokkenheid by
die oorlog word deur De Jager op ’n verfrissende wyse aangebied.
Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog bevat meer as 120 keurig geredigeerde foto’s, waarvan sommige nog nooit voorheen gepubliseer is nie. Dit sluit ook waardevolle nuwe besonderhede oor die oorlog in wat uit talle ongepubliseerde manuskripte
en klankopnames opgediep is.
Die publikasie is beskikbaar by Kraal Uitgewers en toonaangewende boekwinkels landwyd. Besoek www.kraaluitgewers.co.za vir meer inligting of om die boek aanlyn te bestel.

Related Articles

Back to top button