CommunityPhoto Galleries

Word deel van hierdie merkwaardige geloofsgeskiedenis

Word deel van hierdie merkwaardige geloofsgeskiedenis

Die Hervormde Kerk Potch-Suid wil geskiedenis maak. Dié kerk gaan die Bybel woord vir woord, bladsy vir bladsy in een sitting van 24 uur skryf.
Ds. Geo Smit en sy vrou het verlede jaar Wittenberg in Duitsland besoek tydens die feesviering van die Hervormingsfees en op ‘n Bybelmuseum afgekom. Daar kon hulle die grootste en kleinste Bybel en ook die fasette van die Bybel en vele meer sien. Hy het vir sy vrou gevra waarom kan hulle nie ook deel wees van die groter geloofsgemeenskap nie en sodoende ook hul deel doen.
Daar het die droom ontstaan om die 1983 Afrikaanse vertaalde Bybel in een dag bladsy vir bladsy, woord vir woord te skryf. Die kerk beoog om die geskrewe bladsye te bind en na die museum in Witteberg te stuur, as Potch se deel van die globale geloofsaksie.

By die banier voor die kerk van links is Elenor Visagie, Sakkie Stoltz, Marike Buys, Hennie Buys, Hennie Willemse en Pieter Schempers Foto: Verskaf

Hierdie projek loop hand aan hand met hul ander projek waar die kerk gebruikte Bybels versamel en dan weer uitdeel. Die projek het eers in hul eie gemeente begin waar lede genooi was om ou Bybels te bring. Na goeie terugvoer van die lede het die kerk besluit om ‘n banier op te sit voor die kerk waar hulle die breë gemeenskap nooi om deel te word van die projek.
Die kerk het al goeie terugvoer ontvang met die Bybels, deurdat daarvan by skole, tronke en kerke uitgedeel is.
Daar was ook al versoeke vir medium Bybels vir ouer gemeenskapslede wat nie goed kan sien nie. Die oplossing was om brille ook in te samel aangesien dit ook iets is wat baie mense nie altyd kan bekostig nie.
Nou word daar vir mense wat nie meer so goed kan sien nie, ‘n medium Bybel en bril verskaf. Deel van die projek om die Bybel te skryf is dat deelnemers R50 per skryfbeurt betaal. Die R50 word dan weer aan Bybelverspreiding spandeer.
“Ons het heelwat Bybels ontvang en uitgedeel. Dit is ongelooflik hoeveel Bybels kom totaal nuut by ons aan. Baie mense soek ‘n grootdruk Bybel. As ons nie so iets het nie, is die eenvoudigste oplossing om ‘n leesbril saam te gee.
Mens kan nie dink dat baie mense nie eers so iets kan bekostig nie. So, as jy nie ‘n ekstra Bybel het nie, maar wel ‘n ekstra leesbril, bring dit maar asb.” sê ds. Smit.
Hy noem dat 1 447 deelnemers benodig word. Elke deelnemer se naam en ouderdom sal op sy of haar bladsy geskryf word. Volgens Elenor Visagie is daar tans sowat 60 definitiewe skrywers. Hierdie groot gebeurtenis vind op 4 en 5 Augustus van 06:00 tot 06:00 by die Hervormde Kerk Potch-Suid plaas. Vir nadere besonderhede skakel hulle by 082 800 7342 of 066 464 6234.
Voorafbetalings kan gedoen word by die Hervormde Kerk Potch-Suid, Dinsdae tot Donderdae van 08:00-16:00 of EFT na Hervormde Kerk Potch-Suid, Absa tjekrekening, rekeningnommer: 680580065, takkode: 632005, verwysing: jou selfoonnommer (baie belangrik).

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button