News

Kuberkrakers val Potchefstromers se rekeninge aan

Groot verliese danksy kuberkrakers.

Verskeie Potchefstromers was onlangs die slagoffers van kuberbedrog toe duisende rand uit hul bankrekenings verdwyn het.
Johan Zerwick, ’n stadsraadslid, en sy vrou Madelein het ongeveer R26 000 verloor nadat hy die slagoffer van kuberbedrog was.
Mario van de Wall, bekende fotograaf in die stad, het ongeveer R14 000 verloor.
Volgens Zerwick weet hy van ten minste vyf ander Potchefstromers wat ook op dié manier geld verloor het.
Die Zerwick-egpaar is kliënte van Absa, terwyl van de Wall by ’n ander bank ’n kliënt is.
Volgens Zerwick het hy op 7 Junie twee boodskappe ontvang waar begunstigdes by sy internetbankdiens bygevoeg is.
“Kort na ek die boodskappe ontvang het, het Absa se bedrogafdeling my gekontak om te sê dat daar vreemde aktiwiteit in my rekening aan die gang is. Ek het dadelik vir hulle gesê om my bankrekenings te vries,” het Zerwick gesê.
Absa kon daarin slaag om ongeveer R2 000 van die geld terug te kry, maar gaan Zerwick nie vir die res vergoed nie. Volgens Van de Wall is hy ook nog nie vergoed vir die geld wat by hom gesteel is nie.

Mario met sy gunsteling speelding. Foto: Marianke Saayman

Mario van de Wall het ongeveer R14 000 verloor. Foto: Marianke Saayman

Zerwick glo dat die bank hulle geld veilig moet kan hou, veral omdat hulle niks verkeerd gedoen het nie.
“Die bank het seker versekering teen dié soort ding,” het hy gesê.
Beeld het berig dat Phumza Macanda, woordvoerder van Absa, bevestig het dat die Zerwicks slagoffers van kuberbedrog was.
Volgens Macanda het die krakers op ’n manier toegang tot die rekeningnommer, PIN’s en wagwoorde gekry.
“Bankpersoneel het geen toegang tot die inligting nie. Die bank is nie aanspreeklik wanneer krakers op so ‘n manier toegang tot kliënte se rekenings bekom nie. Dié soort bedrog gebeur oral, dit is nie noodwendig dat die bank iets verkeerd gedoen het nie. Kliënte se besonderhede kan onder meer deur selfoonrekenings gesteel word. Die bank het nie versekering daarteen nie, daarom kan kliënte nie vergoed word nie,” het Macanda gesê.
Verskeie mense het op sosiale media sterk uitgevaar teen die besluit van Absa om nie die egpaar te vergoed vir hulle verlies nie.
’n Facebook inskrywing van ’n inwoner met die Netwerk24-berig oor die Zerwick-geval is teen Woensdagmiddag reeds 681 keer gedeel. Al die mense wat kommentaar op die inskrywing gelewer het is van mening dat Absa die egpaar moet vergoed.
Volgens Zerwick is die geld wat gesteel is nie ekstra geld nie, maar van die egpaar se salarisse wat nou weg is. Hulle moes van ’n oortrokke fasiliteit gebruik maak om hul rekenings te betaal.
Zerwick het intussen ook ’n saak van bedrog by die polisie aanhangig gemaak.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button