NewsNews

“Kom ons noem dit nie moord nie”

“Ek is so dankbaar dat my ‘beautiful dad’ sy laaste jare in Parys kon deurbring...wat ‘n genade en vrede!”

“Kom ons noem dit nie moord nie. Iemand het hom gevat sonder ons toestemming.” Deernisvolle woorde in die gebed van ‘n verpleegster van Najaarsrus. Woorde wat die diep hartseer van ‘n familie en gemeenskap omskryf het na die tragiese dood van die 77-jarige Pierre Lotz.
‘n Geliefde eggenoot, pa, oupa, steunpilaar, vriend en omgee-mens wat Sondag 24 Junie in die oggendure in sy huis in President Krugerstraat gesterf het tydens ‘n huisroof.  Wie ookal vir die daad verantwoordelik was, het deur die dak toegang gekry en is waarskynlik deur Pierre in die sitkamer betrap waar hy ook gesterf het.
Die moordenaar is weer by die kombuisdeur uit sonder dat iets noemenswaardig gesteel is.
Pierre het waarskynlik die slag gehoor toe die inbreker deur die dak op die kombuistafel geval het. Hy het op pad kombuis toe nog die paniekknoppie van die alarm geaktiveer. Parate en besorgde bure het onmiddellik op die alarm gereageer.
Pierre se vrou, Maggie wat nog herstel het van ’n operasie, was in die slaapkamer en is ongedeerd.
In die tragiese ure wat na sy dood sou volg het mense met soveel teerheid na die familie uitgereik. Kinders wie kort tevore nog by hul ouers die Saterdag gekuier het, en net ure later moes hoor dat hul pa skielik en sonder waarskuwing van hul weggevat is.
“Ons het ‘n tragedie gehad, maar die Here het in een dag soveel engele in mensgewaad oor ons pad gestuur. Ons is in die stad en ervaar nie altyd hierdie intieme Goddelike nabyheid van mense wat meer doen as wat van hul verwag word nie. Van die polisie, tot die sekuriteitspersoneel, personeel van Najaarsrus wat ons ma onmiddellik ingeneem en versorg het, die bure wat na alles omgesien het, predikante, die dokter – mense wat so teer met ons gewerk het,” het die egpaar se seun, Jaco, gesê.
“Ons is oorweldig deur Parysenaars se deernis, liefde, omgee en geloof wat steeds aanhou! Ons word gedra deur jul omgee!”
Die egpaar het sedert 2005 in die huis in President Krugerstraat gewoon toe hulle van Natal na Parys verhuis het.
Pierre was ‘n afgetrede skoolhoof en baie betrokke in die gemeenskap waar hy as hoofouderling in die NG Moedergemeente gedien het. Hierbenewens was hy ook betrokke by die Alzheimer ondersteuningsgroep, en as ondervoorsitter van die Najaarsrus Beheerraad. Hy was baie gesond, altyd doenig met nutswerkies. Selfs die huistakies en versorging van Maggie het hy met presiesheid en liefde gedoen.
Vir sy kinders Johan, Jaco en Hannah was hy ‘n voorbeeld-pa en vriend en word hy naas hulle en Maggie, ook oorleef deur sy kleinkinders, broer, suster en Leon. Die begrafnisreëlings was nie teen Gazette se druktyd bekend nie.
Daar was teen Dinsdag ook nog geen arrestasie vir die moord gemaak nie.
* Ons innige medelye met die familie en hulle wat naby aan Pierre was.

Related Articles

Back to top button