NewsNews

Drie in hof vir borgaansoek ná inligting polisie help met arrestasie

’n Pa en seun van Vanderbijlpark en nog ’n derde verdagte moes vandeesweek weer in die distrikshof in Parys verskyn het vir ’n formele borgaansoek.

Dit volg na die diefstal van twee koeie en vier kallers  by Almur Smit op 11 Junie vanjaar. Die waarde van die gesteelde beeste beloop R70 000.
Die 56-jarige Adriaan Oosthuizen en sy seun Riaan (34), asook die 37-jarige Aaron Molamu van die Lindequesdrift-nedersetting, het reeds vroeër op die klag van veediefstal in die hof verskyn. Hulle was teen Gazette se druktyd nog in aanhouding, in afwagting op die aanhoor van die borgaansoek. Die drie is vasgetrek danksy uitstekende samewerking van beriggewers, die polisie, speurders en die plaaslike boeregemeenskap, wat inligting opgevolg het. Nog ’n  man, Thipe Morokoane, het verlede Donderdag op ‘n klag van diefstal in die distrikshof in Parys verskyn, nadat vier hoenders by Alfred Smit gesteel is. Die Heilbron Veediefstaleenheid bedank die gemeenskap en beriggewers en sê dat dié arrestasies weer die waarde van inligting wat aan die polisie deurgegee word, beklemtoon. Die Parys en Vredefort-distrikte loop gereeld onder veediewe deur. Mense word aangemoedig om geen inligting as waardeloos te beskou nie. Inligting kan aan die eenheid gedurende kantoorure by (058) 853 5236, of speur-adjudant Johan Kruger by 071 375 7665 deurgegee word.

Related Articles

Back to top button