
Geen water in die krane nie. Dit was die afgelope naweek Parysenaars se voorland, nadat die kontrakteur wat aan die dorp se rioollyn werk, die waterpyplyn tussen Tumahole en Basa Park by twee punte raakgeboor het. Vir sommige het die waterkrisis reeds verlede Donderdag al begin.

Die skade is na wat verneem is gerapporteer, maar klaarblyklik is net een pyp-lek deurgegee aan die span wat die herstelwerk moes doen. Gevolglik is eers Sondagoggend begin met herstelwerk aan die tweede pyp-lek, nadat mense toenemend gekla het omdat daar nie water is nie.
Teen Maandagoggend was daar steeds dele van Parys wat sonder water was, terwyl daar nog gesukkel is om van die opgaardamme vol te kry, en seker te maak dat daar nie nog pyp-lekke is nie.
Die krisis het egter weer gewys hoe Parys se inwoners kan saamstaan in tye van nood. Verskeie individue en organisasies soos die We Care vrywilligers het dadelik ingespring om onder meer by die Sonskyn Tehuis en by Goue Jare drinkwater af te gee en watertenks vol te maak. Vars drinkwater is ook by die NG Suid-gemeente en deur Saal de Jager aan die gemeenskap beskikbaar gestel. Dankie aan elkeen wat gehelp het.




